Kuier Combo Koningskos is vanaf 20 November beskikbaar op winkelrakke teen slegs R40
BESTANDDELE
8 – 12 hoenderstukke
1 groot kweper
Gerasperde skil en sap van 1 suurlemoen
3 eetlepels botter
3 eetlepels olie
3 groot uie, fyngekap
3 knoffeltoontjies, gekneus en fyngekap
1 x 3 cm knoets vars gemmer, geskil en fyngekap (of gerasper)
1 kaneelstokkie
1 eetlepel heuning
1 teelepel fyn komyn
½ teelepel borrie
½ koppie hoenderaftreksel
Sout en varsgemaalde witpeper na smaak
METODE
Halveer die kweper en verf die oop kant met ’n bietjie suurlemoensap. Stoom vir 25 – 30 minute tot net-net sag. Laat eenkant om af te koel en sny dan in skywe. Verwyder die skil en stronk. Verhit die botter en olie in ’n groot swaarboompot en verbruin die hoenderstukke in sarsies daarin. Haal die hoender uit en hou eenkant. Braai die ui in dieselfde pot tot sag en deurskynend. Voeg die knoffel en gemmer by en braai nog vir ’n paar minute. Voeg die kaneelstokkie en komyn by en braai vir nog ’n minuut of twee. Plaas die hoenderstukke terug in die pot, voeg die heuning, suurlemoenskil en -sap en borrie by. Roer die aftreksel by en geur met sout en peper. Rangskik die kweperstukke tussenin.
Laat vir ongeveer 30 minute prut. Skep in ’n oondvaste bak. Sorg dat die hoenderstukke met die velkant na bo is en plaas die bak so onbedek in ’n voorverhitte oond van 200° C vir 30 minute.