Kunsuitstalling is meer as WOW

Skole in Atlantis het Donderdag 26 Julie ’n kunsuitstalling gehad waar die jong kunstenaars hul werk kon uitstal. Van die jongste kunstenaars was maar agt jaar oud.


Skole in Atlantis het Donderdag 26 Julie ’n kunsuitstalling gehad waar die jong kunstenaars hul werk kon uitstal. Van die jongste kunstenaars was maar agt jaar oud.

Hierdie uitstalling is ’n jaarlikse gebeurtenis wat in samewerking met die WOW-projek van die Universiteit Stellenbosch, aangebied word.

Vanjaar het die Stad Kaapstad se naskoolse Gamechangers-projek hand bygesit om van dié dag ’n sukses te maak.

Leerders het reeds in Maart ’n slypskool in Stellenbosch bygewoon.

Die gewilde slypskole streef om skepping aan te wakker en ’n liefde vir lees en skryf by leerders te kweek, meen die organiseerders. Onderwysers is ook touwys gemaak in nuwe en prettige maniere om lesse aan te bied. Aktiwiteite word met kreatiewe skryftegnieke en die Woordfees-tema gekoppel.

Die eindprodukte was kleurryke plakkate met elke leerder se gediggie daarop. Elke kunswerk kom nou in aanmerking vir WOW se jaarlikse Verf-en-verskompetisie met pryse vir die wenplakkate.

Volgens Carol Adonis, oudonderwyseres en bestuurder van die plaaslike kultuurfeesprojekte vir WOW, het sowat 10 laerskole en twee hoërskole van Atlantis deelgeneem.

Leerders en hul ouers was Woensdag genooi om hul kunswerke te kom bewonder. Die WOW-projekbestuurder van Stellenbosch, Fiona van Kerwel, en haar span het die beoordeling kom doen.

Tussen die Stad Kaapstad en WOW gaan 60 belowende kunstenaars eersdaags na ’n kunsmuseum in Stellenbosch geneem word waar hulle bekende werke sal sien.

Die gemeenskap van Atlantis word ook genooi na die kultuurfees wat in September sal plaasvind.

You need to be Logged In to leave a comment.