Ek het die ander dag ’n aanhaling deur die Amerikaanse menseregte-aktivis Rosa Parks raakgelees, dit heet: Elke persoon moet hul lewe ly sodat dit ’n toonbeeld vir andere is.

  • Dit het my laat dink aan my kinderdae en hoe ek as vierjarige kortbene-en-al in die Pastoriehuis in Piketberg, hareborsel in hand (dis mos nou my , voor die spieël gedans en sing het op die ritme van ’n Whitney Houston-liedjie.

Deesdae is daar ’n ding soos lip sync (waar jy net jou lippe beweeg en maak asof jy sing), maar daai dae was dit nie nodig nie, want ek het elke woord van I wanna dance with somebody, I’m every woman en my ultimate gunsteling, I will always love you uit volle bors gesing.

Sy was my rolmodel. Ek wou Whitney Houston wees wanneer ek groot is. Ek het haar nageboots. Soos sy gesing (met daai onderste lip wat so bewe wanneer sy sing), soos sy gedans. En toe word ek ouer en gaan deur ’n dokter-, sielkundige en joernalis-fase…needless to say, het ek mos toe by die joernalis-fase gebly.

Wie is jou rolmodel? Miskien moet ons eers kyk na wat ’n rolmodel is. Volgens die woordeboek is ’n rolmodel “iemand na wie ander opkyk as ’n voorbeeld wat nageboots moet word”.

Ons hoor meer en meer van kinderbendes in Atlantis. Is een van die redes ’n gebrek aan rolmodelle – persoonlik dink ek nie so nie. Ons het genoeg voorbeelde in die gemeenskap na wie ons kan opkyk. Miskien is die probleem dat ons die verkeerde mense naboots?

Almal van ons het die vermoë om te redeneer tussen reg en verkeerd. Of jou verwysingsraamwerk nou die skool, sondagskool, ouerhuis of gemeenskap is. Maak nie saak nie. Daar is tog ’n deel van jou wat weet wanneer jy reg of verkeerd doen.

Hoekom gebruik ons nie hierdie redenering wanneer ons kyk na rolmodelle nie. Vra jouself, is dit iemand wat ek wil naboots? Wat maak van hom/haar ’n rolmodel? Is dit fame, baie geld, mooi karre? Het ons nie ook soms die verkeerde persepsie van wie iemand is nie? Baie van ons kyk op na Amerikaanse sangers of akteurs. Ons sien die glitz and glamour van Hollywood, maar ons sien nooit die behind the scenes goed nie; laat nagte in die studio, woorde leer, liedjies skryf, die pressure om altyd goed te lyk. Wat ons ook nie altyd besef nie, is dat die Hollywood-sanger of -aktrise ’n brand is. Wat jy sien op televisie of in koerante en tydskrifte is net ’n gedeelte van wie hulle eintlik is – ’n deel wat hulle wil hê jy moet sien, om hul brand te bemark. Dink aan jouself as ’n handelsmerk (brand). Besef wat jy uitsit in die wêreld via Facebook, Twitter, Instagram, WhatsApp, en ander sosiale netwerke asook hoe jy optree, praat, aantrek, gaan bepaal wat ander van jou dink en hoe hulle teenoor jou gaan optree. Wees altyd conscious van wie jy is en wat jy uitsit in die wêreld. Laat jòù lewe ’n toonbeeld word vir ander om na te boots.

You need to be Logged In to leave a comment.