Wanneer jy by die koffiewinkel in Mamre instap, trek die beeldskone kunswerke teen die mure eerste jou aandag.
Jy kan verskoon word om te dink dat die kunswerke deur een of ander internasionale kunstenaar geverf is, maar inteendeel is dit ’n plaaslike inwoner wat hierdie wonder(kuns)werke tot lewe gebring het.
Clarck Adonis (41) is ’n gebore en getoë Mamriet wat deesdae nes in die naburige Atlantis geskop het.
Adonis vertel dat sy ma eintlik baie jare ’n kunsonderwyser was. Sy pa is ook ’n timmerman en volgens hom is dit waar hy sy talent vandaan gekry het.
Hy het by Mamre Primêr en later Saxonsea Sekondêr skoolgegaan. Ná skool het hy grafiese ontwerp by ’n kollege in Paarl gaan studeer.
“Ek het nie die kursus voltooi nie, maar het basiese kennis opgedoen,” het hy verduidelik.
Adonis doen potloodsketse en verf met akriel- en olieverf, maar sy gunsteling-tegniek is die troffeltegniek, wat hy self ontwikkel het.
“Jy pak basies lae verf opmekaar met ’n tempermes,” verduidelik hy.
Die tegniek gee die kunswerke ’n unieke tekstuur.
Adonis kry sy inspirasie vir nuwe kunswerke van poskaarte en foto’s en geniet dit veral om landskappe te verf, “omdat daar soveel detail in is.”
Omdat hy skofte werk, kry hy deesdae nie tyd om aan sy kuns te werk nie. Hy sou dit graag sy beroep wil maak, maar erken hy het geen idee hoe om sy werk te bemark nie.
Wanneer hy wel ’n aftydjie het, gaan dans hy graag of kuier met familie en vriende. Sy werk word in die Tori Oso-restaurant in Mamre uitgestal.