Mendl Lategan is 43 het reeds die wêreld plat gereis as vlugbeampte en op luukse bote.
Die siviele ingenieur het deesdae ook die amptelike titel van motiveringsspreker op sy kerfstok en wil dié kennis met plaaslike jongmans deel deur as mentor op te tree en hulle ook te leer skaak speel.
Waarom is dit vir jou belangrik om jou kennis met die jeug te deel?
Ek dink ons is hier op aarde om ons doel te ontdek en ook om ander te help. Daar is baie mense wat my gehelp het op my lewensreis en ons weet nooit wanneer ons reis tot op ’n einde kom nie. Ek weet hoe frustrerend dit kan wees as niemand in jou drome glo nie en jou ook nie help nie. Ek deel graag my kennis met mense wat bereid is om te luister en uit te dra.
Met al jou reise en avonture, wat is die grootste lewenslesse wat jy geleer het?
1. Behandel almal ongeag van posisie, ras, nasionaliteit en besittings met respek.
2. As jy deur ’n moeilike tyd gaan of ’n nuwe uitdaging wil aanpak, dan sien jy werklik wie jou familie en vriende is.
3. Multimiljoenêrs wys nie dat hulle geld het nie.
Wat is jou raad vir jongmense wat amper klaar is met skool of reeds gematrikuleer het, en nie weet watter beroep hulle wil volg nie?
Moenie haastig wees met verdere studies direk ná skool nie. Daar is niks verkeerd met ’n oorbruggingsjaar nie, maak net seker jy gebruik die tyd konstruktief. Daar is ’n gesegde wat lui: “Ledigheid is die duiwel se oorkussing”. Reis na ander lande. Jy sal soveel nuwe vriende maak, interessante mense ontmoet, ander kulture ervaar en wêreldwys raak. Daar is honderde posisies beskikbaar op vliegtuie, passasierskepe, hotelle, casino’s en winkelsentrums in ander lande. Jy kan ten minste een posisie kry wat by jou belangstelling sal pas. Met verloop van tyd sal jy jou voete vind en dan kan jy verdere studies in daardie spesifieke rigting volg. Hou ook in gedagte baie selfgemaakte biljoenêrs het geen universiteitskwalifikasie nie, soos Bill Gates (Microsoft), Mark Zuckerberg (Facebook) en wyle Steve Jobs (Apple Computers). Hoekom kan daar ook nie ’n toekomstige biljoenêr uit Atlantis kom nie?
Jy het ’n kwalifikasie in siviele ingenieurswese, tog werk jy nie in die bedryf nie. Waarom was dit belangrik vir jou om die kwalifikasie te bekom?
As kind het ek daarvan gehou om met Lego-blokkies huise en geboue te bou. Op skool was ek nogal goed in wiskunde en wetenskap. Ek wou altyd ’n dokter word omdat ek mense wou help, maar dit was finansieel baie moeilik ná skool. En nou is ek ’n career coach. Ek hou ook baie van ’n uitdaging en het baie van my vakke met onderskeidings geslaag.
Wat was van die uitdagings wat jy ervaar het deur op 33-jarige ouderdom te gaan studeer?
Die grootste uitdaging was om myself te oortuig dat ek dit kon doen. Baie mense gaan graf toe met al hul drome en onvervulde wense omdat jy toelaat dat die negatiewe stemmetjie in jou kop jou oortuig dat jy dit nie kan doen nie. Dit is beter om iets te probeer en later uit te vind dat dit nie werk nie, as wat jy nie iets probeer nie en vir die res van jou lewe wonder wat sou gebeur het. Die lewe is baie kort en jy moet voluit gelewe word. Jy is nooit te oud om te leer of om ’n beroepsverandering te maak nie.
Wie of wat is jou grootste inspirasie/motivering?
Ek was in st. 7 (graad 9) toe ek vir Wofgang Riebe ontmoet. Hy is ’n kulkunstenaar wat op passasierskepe gewerk en na meer as 120 lande gereis het. Hy was ’n baie groot inspirasie en tot vandag toe is ons nog in kontak. My gunstelingtelevisieprogram was MacGyver in die 1980’s. Hy het altyd planne gemaak om hom uit enige moeilike situasie te kry. As ek in ’n penarie is, vra ek altyd myself wat hy sou gedoen het. En dan my ma, Veronica, wat vir 24 jaar in ’n klerefabriek gewerk het om my en my suster, Lindi, as enkelouer groot te maak nadat ek my pa op sesjarige ouderdom in motorongeluk verloor het. My ma het in 2016 aan longkanker gesterf.
Vertel my meer van die mentorskap wat jy wil begin met seuns in Atlantis?
Ek werk die afgelope twee jaar in Atlantis en sien hoe die jongmanne sonder werk op die straathoeke sit. Ek weet daar is ook die uitdagings van bendes en dwelmgebruik. Ek was al ook ’n paar keer tussen werke en weet hoe frustrerend dit kan wees. Baie keer sien ek myself in hulle en ek dink God het my op al die reise en uitdagings gestuur om hulle eendag te help. Daardie eendag het aangebreek. Met die mentorskap moet ons bepaal wat hulle talente en passies is en dan probeer om hulle in die geskikte rigting te stuur. Baie mense is ook ongelukkig in hulle huidige beroep. Wat baat dit jy verdien “goeie” geld maar is ongelukkig? Ghandi en Mandela het baie eenvoudige leefstyle gehandhaaf, maar groot nalatenskappe agtergelaat. Jy het nie ’n posisie of groot inkomste nodig om iemand te help nie. As almal net twee persone help en hulle help twee persone ensovoort, sal die wêreld ’n beter plek vir almal wees.
Belangstellendes kan Lategan bel by 083 798 5211.