“Die DA het Atlantis se mense gefaal.”

Só meen Suzette Little en Gregchan Bernado.

Little, die voormalige “klein-burgemeester” vir area Noord waaronder Atlantis val, en Bernado, ’n proporsionele raadslid vir wyk 29, het onlangs saam die voormalige burgemeester Patricia de Lille uit die DA bedank. Nog ander raadslede het ook saam met De Lille die pad gevat.

Dié groep het die party en die stadsraad van rassisme beskuldig en dit ook as rede vir hul bedanking aangevoer.

Bernado het onlangs op Radio Atlantis gesê die voormalige raadslede oorweeg hul volgende stap en inwoners sal binne die volgende twee weke weet wat gaan gebeur, want “ ’n nuwe bedeling is nodig in die Wes-Kaap”.

Bernado sê die manier hoe oorwegende bruin gebiede, soos Atlantis waar hy ontplooi was, afgeskeep word, is bewys van die party se rassisme. Volgens Bernado is net 0,5% van die metropolisie in Atlantis ontplooi.

“Maar in die meeste wit gebiede is die metropolisie orals,” voer hy aan.

“Wie se lewe is belangriker? Dit is iets waarvoor ek baie in die koukus baklei het, maar elke keer loop jy jou teen ’n muur vas,” sê hy.

Basiese dienste soos die metropolisie-kantoor in Atlantis is na Bontheuwel verskuif. Vaste afvalbestuur is na Montague Gardens terwyl die titelaktekantoor ook onlangs na Parow verskuif is.

“Ons mense is van die basiese dienste ontneem. Ons is beslis nie ’n klomp lafaards nie. Ons is bereid om te veg vir Atlantis en ander gebiede waar rassisme hoogty onder die DA vier,” verduidelik hy.

Bewerings deur die groep dat raadslede verdeeld is ná De Lille se bedanking, is belaglik sê Marian Nieuwoudt van die DA. Volgens haar is die uitslag met Dan Plato se verkiesing tot nuwe burgemeester ’n duidelike bewys daarvan. Plato het 146 stemme gekry teenoor Xolani Sotashe, ANC-raadslid, se 53 stemme. Plato het na sy verkiesing gesê hy is ’n “ou besem, maar sal beslis skoon vee”. Plato voer aan hy sal binnekort gemeenskappe besoek om te hoor wat die nood is. Grant Twigg is nou verantwoordelik vir area Noord.

You need to be Logged In to leave a comment.