Leerder beseer by Wesfleurpark

Moet iemand eers dood val of ernstig beseer word voordat hulle na ons hulpkrete gaan luister?.


Moet iemand eers dood val of ernstig beseer word voordat hulle na ons hulpkrete gaan luister?

Sò voel sportorganiseerders wat hierdie week met Weskus Nuus gepraat het oor die geriewe by Wesfleurpark.

Dit volg nadat ’n gr. 5-leerder Donderdag 19 Januarie hospitaalbehandeling moes ontvang nadat die betonsitplek, waarop hy gestaan het, tydens Saxonsea Primêr se inter-kleure-atletiekbyeenkoms omge-val het.

Volgens Gary Markus, onderhoof van Saxonsea Primêr en atletieksameroeper van Atlantis, het die leerder, Jaden-Lee Pietersen (10), in sy val ’n maatjie saamgetrek, wat ook saam met hom geval het.

Die twee is op die toneel deur mediese personeel behandel en Pietersen is na die Wesfleur-hospitaal geneem, waar hy vir erge rugpyn behandel is.

Hy is dieselfde dag weer ontslaan.

Markus het gal gebraak oor die insident en voel as daar nie gou na die veiligheid van die stadion gekyk gaan word nie, daar meer sulke gevalle gaan wees.

Met Weskus Nuus se besoek is daar gevind dat daar geen veiligheidsrelings is nie en talle betonsitplekke los is. Die atletiekbaan is ook plek-plek stukkend.

Wesfleurpark word deur atletiekklubs, skole en fiksheidsklubs gebruik as ’n veilige plek om te oefen en sportbyeen-komste te hou.

“Die kinders moet heeldag die bloedige hitte trotseer tydens atletiekbyeenkomste, want daar is geen beskerming teen wind, reën en son nie.”

Volgens Markus is daar al verskeie hulpkrete na amptenare gerig, net om elke keer te hoor daar is nie geld om die veld en stadion reg te maak nie. Voorts sê die organiseerder, is die baan besig om te verkrummel, wat nog ernstige beserings kan veroorsaak, veral vir atlete wat met spykerskoene hardloop.

Tashwell Adams, voorsitter van die Velocity-atletiekklub, wat ook gereeld by die sportveld oefen, sê hulle het twee jaar gelede reeds ’n “wish list” aan stadsamptenare gegee, waarin die opgradering van die stadion, pgradering van die atletiekbaan en die aanlê van kragpunte onder meer genoem is.

“Dit is ook inwoners wat nie die baan gebruik vir oefening wat soms die plek bemors en afbreek. Die een sekerheidsbeampte wat daar is kan nie die beheer hou oor al die mense wat die park gebruik nie,” noem hy verder.

Weskus Nuus het Cynthia Clayton, subraadvoorsitter, om kommentaar genader, wat op haar beurt gesê het, “dit is net logika om iets wat stukkend is reg te maak.”

Rdl. Suzette Little, burgemeesterskomiteelid het gesê die insident word ondersoek.

You need to be Logged In to leave a comment.