Leerders van Hoërskool Bloubergrant, Nangoxolo Bodlani en Lewis Phidza, het die jaarlikse Eskom-debatkompetisie gewen. Saam met hulle is bestuurder Sinalo Ncisana en juffrou Faith Moyo van Hoërskool Bloubergrant en leerders Rodreck Nyamande en Muhaimin Khan.Foto: Verskaf


Die kragreus Eskom het gedurende die Septembervakansie sy gewilde debat­kom­petisie vir hoërskoolleerders by die Koeberg-kernkragstasie gehou.

Die tema van dié kompetisie was om bewustheid te skep oor die rol en belangrikheid van kernkrag.

Leerders van Hoërskool Bloubergrant, Hoërskool Melkbosstrand en Hoërskool Inkwenkwezi van Dunoon het kragte teen mekaar gemeet en gedebatteer oor of Suid-Afrika se elektrisiteits­voorsie­ning sonder kernkrag kan geskied.

Die beoordelaars was baie beïndruk met die goeie navorsing en toewyding wat die leerders van al drie skole gewys het.

Slegs twee skole kon egter na die eindronde deurdring en leerders van Dunoon moes die aftog blaas.

Die stryd was Woensdag 3 Oktober aan vir ’n vuurwarm debat en die twee finaliste, Bloubergrant en Melkbosstrand het mekaar behoorlik opgekeil.

Die laaste ronde was gespanne en elke spreker was senuweeagtig om hul skool te verteenwoordig, maar uiteindelik was daar geen keer aan Bloubergrant toe hulle stof in Melkbosstrand se oë geskop het nie.

Bloubergrant het met die kroon weggestap en is vanjaar die wenners van die Kernkrag-debatkompetisie.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • WeskusNuus E-Edition – 9 December 2025
    https://weslander.co.za/weslander-e-edition-11-december-2025/

Gift this article