’n Matrikulant van die Hoërskool Milnerton, Kayliegh Jephea, wat ’n semifinalis vir Mej. Tiener Suid-Afrika in die Wes-Kaap is, het leerders van Berzellia Primêre skool en Lily’s-kleuterskool Vrydag 26 April met sokkies bederf.
Dié 17-jarige is oorspronklik van Atlantis maar woon in Tableview by haar ma, Charlene Patience. Haar ma het aan Weskus Nuus vertel dis haar eerste skoonheidskompetisie en sy is ‘só trots!’
Kayliegh het in Februarie vir oudisies gegaan en het nie juis geweet wat om te verwag nie. Sy het egter koelkop gebly en is as semifinalis vir die Wes-Kaapse kroon aangewys.
Die Wes-Kaapse halfeindronde van die kompetisie word Sondag 5 Mei by die King David-gholfklub in Mowbray gehou waarna die eindronde ’n maand later (5 Junie) in Johannesburg beslis sal word.