‘Leierfigure’ verskyn in hof oor moord

Die verhoor van ’n vermeende Mongrel-bendelid wat ses jaar gelede 245 keer gesteek en ’n skoot deur die been geskiet is, het Dinsdag 5 Februarie in die Wes-Kaapse hooggeregshof begin.


Die verhoor van ’n vermeende Mongrel-bendelid wat ses jaar gelede 245 keer gesteek en ’n skoot deur die been geskiet is, het Dinsdag 5 Februarie in die Wes-Kaapse hooggeregshof begin.

Vier vermeende leierfigure van die G-Unit-bende, Gerrit Franse, Michael Adams, Aldrick Adams en Chestwell Essop het in die Wes-Kaapse hooggeregshof vir dié moord verskyn.

Die hofverrigtinge is vinnig kortgeknip toe Adams sy hand opgesteek het en by regter Robert Henney gekla het.

“My lawyer het nog nooit met my gekonsulteer nie en ek verneem dat ’n nuwe klag by die klagstaat gevoeg gaan word,” het hy gesê. Henney het die hofsaak verdaag sodat Adams en sy regsverteenwoordiger kon konsulteer, maar toe die verhoor hervat, moes die hof hoor Adams soek nou ’n ander prokureur.

“Meneer, jy gaan nie die hof se tyd mors nie. Die saak kom nou al baie lank aan vir jou om nou te besluit jy soek ’n ander lawyer,” het die regter hom geroskam.

“As jou prokureur nie die volgende dag hier is om met die saak aan te gaan nie, sal ek ’n ondersoek las en jou borgtog terugtrek,” het Henney gedreig. Adams het die hof toe meegedeel sy familie het ’n ander regsverteenwoordiger gekry.

“Jou familie is nie in die saak nie, jý is. Die saak gaan nie uitgestel word nie. Ek ken ál julle tricks,” het Henney gesê.

Die staat voer aan die viertal het Clint Smith vermoor. Smith was glo ’n leierfiguur van ’n ander bende wat met die 26’s-bende verbind word.

Sy halfkaal lyk is 22 Maart 2013 vol steekwonde in Saxonwold langs die Ou Mamre-Darlingpad gekry. Sy bloedbevlekte motor is 15 km verder opgespoor. Die staat voer aan Franse, die vermeende leier van die G-Units, het Smith gebel en na sy huis in Atlantis genooi. Smith en ’n vroue-passasier, was glo nog uit Malmesbury op pad na Franse se huis toe hy gestop en aangeval is. Die vrou is glo ongedeerd by haar huis afgelaai. Die saak duur voort. Shantel Moses/Son

You need to be Logged In to leave a comment.