Dit het met slegs ’n paar kinders begin, en 22 jaar later word 400 minderbevoorregte kinders in die Avondale-gebied deesdae steeds met soetgoed bederf.
Deon Mckie en sy vrou, Bernadette, sowel as Irene Davids van die Pearl Mansion-woonstelle het kinders van die gebied op Kersdag met lekkernye en iets te ete bederf.
Volgens die paartjie doen hulle dit reeds jare uit hul eie sak, omdat hulle omgee vir inwoners en veral dié wat niks het. Volgens Deon het hulle ook kospakkies aan 40 bejaardes en nog 15 pakkies aan ander gesinne oorhandig.
“Kersfees is ’n tyd van gee, en dit is ons manier om dankie te sê vir klante wat ons onderneming deur die jaar ondersteun,” vertel die span.
“Die dankbaarheid en waardering van jonk en oud is wat ons dryf om elke jaar meer kinders te bederf,” vertel die span. “Baie van die kinders se ouers werk nie en is van ’n klein toelae afhanklik, en ons weet daar is nie altyd geld vir ’n lekkertjie vir die kleingoed nie. Die feit dat ons nie juis borge het nie, is nogal hartseer, want ek weet met ’n bietjie hulp van ander ondernemings sal ons nog meer glimlaggies op kindersgesigte kan sit,” meen die span. Deon sê hulle het verlede jaar ’n geheime skenker gehad, maar die res kom uit hul eie sakke. . Ondernemings of mense wat graag die jaar die span se drome – om meer kinders te bederf – kan moontlik maak, kan Deon by 072 483 6950 bel.