Weskus Nuus en SuperSport se Let’s Play-wenner vir Februarie is die langafstandatleet Shaniel Williams.
Williams (12) is ’n gr. 7-leerder by Kerria Primêr. Sy het aanvanklik aan kortafstandwedrenne deelgeneem en is in 2014 deur afrigter Frans Herwell ontdek as ’n langasem.
In haar kort loopbaan as langafstandatleet het Williams reeds meer as 15 medaljes verower. Sy is ook ’n landloopatleet vir die Velocity-atletiekklub.
Williams en haar afrigter oefen vier tot vyf dae per week vir ’n uur.
“Sy het ’n liefde vir atletiek. Jy hoef haar nooit te motiveer of baie te vra nie, sy gee altyd 100%,” vertel Herwell.
Akademies vaar Williams ook uiters goed en is tans die skool se onderhoofdogter. Haar gunstelingvak is wiskunde en sy wil graag eendag ’n dokter word. Haar grootste prestasie tot dusver is dat sy onlangs tot die eindronde van die 1 500 m-naellope in die SA Laerskole-kampioenskap in Potchefstroom deurgedring het.
Skole en afrigters in Weskus Nuus se verspreidingsarea word uitgenooi om hul atlete in te skryf om in aanmerking te kom vir die Let’s Play-wen)ner van die Maand. Die maandwenner se profiel sal in die koerant verskyn en hy/sy ontvang ’n geskenkpak van SuperSport.
Aan die einde van die jaar word ’n algehele wenner gekies tydens ’n ete saam met hul ouers, skoolhoofde en afrigters. Verlede jaar se wenner, Roy-Keane du Plessis, ’n gr. 7-leerder van Saxonsea Primêr, het met sowat R2 600 se pryse weggestap.
S Stuur ’n kort opsomming van die leerder se prestasies aan Joline.vd Merwe@media24.com of bel 0021 572 9090 vir meer inligting.