Let’s Play-wenner: sport laat Daiman uit kassie klim

Pella Morawies Primêr se Daiman Titus is Weskus Nuus en Supersport se Let’s Play-wenner vir Julie.


Pella Morawies Primêr se Daiman Titus is Weskus Nuus en Supersport se Let’s Play-wenner vir Julie.

Die 13-jarige gr. 7-leerder is ’n kranige 200 m-naelloopatleet, ’n ywerige rugbyspeler en speel vleuel vir sy skool.

Habana, soos sy spanmaats hom noem, het vanjaar die WP-span gehaal, maar ’n week voor die span na Oudtshoorn moes vertrek vir ’n toernooi, moes hy ’n noodoperasie vir sy blindederm ondergaan. Die toernooi is ook uiteindelik afgestel. Die span het wel ’n wedstryd op Nuweland gaan speel. Hoewel Daiman nie kon speel nie, het hy die wedstryd bygewoon.

In April het Daiman ook aan die nasionale atletiekkampioenskap in Potchefstroom gaan deelneem, waar hy vierde plek in die 200 m behaal het.

Afrigter Jerome Geduld, sê hy het reeds in gr. 3 Daiman se potensiaal raakgesien. Geduld beskryf hom ook as ’n eens “moeilike mannetjie” wat gereeld die klas ontwrig het.

Tot sy onderwysers se verbasing is Daiman deesdae baie rustiger en meer gedissiplineerd. Volgens Geduld is dit ’n direkte uitwerking wat sport op Daiman gehad het.

Die atleet, wat van Mamre afkomstig is, oefen in die seisoen saam met sy afrigter, maar oefen ook saam met sy pa en oupa.

Geduld vertel een van die uitdagings vir die skool is ’n gebrek aan sport­geriewe. “Ons moet gewoonlik wag tot die Champs of Champs-byeenkoms verby is en dan word die atlete wat deurgedring het aangery tot sportvelde soos Wesfleurpark in Atlantis om te oefen.”

Daiman gaan volgende jaar by Hoërskool Durbanville aansluit. Hy moedig ander leerders aan om by sport betrokke te raak. “Ek was skaam maar het baie nuwe vriende gemaak.”

You need to be Logged In to leave a comment.