Lewenslange tronkstraf

“Ek het alle vertroue in ons regstelsel en byna in God verloor. Ek weet my kind was g’n engel nie, maar hy het beslis nie verdien om só wreed vermoor te word.”.


“Ek het alle vertroue in ons regstelsel en byna in God verloor. Ek weet my kind was g’n engel nie, maar hy het beslis nie verdien om só wreed vermoor te word.”

Met hierdie woorde het Gina Smith, ma van die vermoorde Clint Smith, byna almal in die Wes-Kaapse hooggeregshof in trane gehad – selfs die beskuldigdes wat skuldig bevind is aan die moord op haar seun.

Die veroordeelde moordenaars, Gerrit Franse, Michael Adams, Aldrick Adams en Chestwell Essop, is Woensdag 12 Junie elk lewenslange tronkstraf toegedien vir die moord op Clint in 2013.

Die vier is ook elk ses jaar direkte tronkstraf vir ontvoering opgelê terwyl Chestwell ’n verdere 12 maande gekry het vir rig van ’n vuurwapen. Essop het op sy beurt ook ’n addisionele ses maande vir die besit van ’n gevaarlike wapen ontvang.

Die hof het gelas dat die vonnisse aaneenlopend uitgedien moet word, wat beteken dat hulle effektief lewenslank in die gevangenis sal wees.

Clint se lyk is 22 Maart 2013 met 247 steekwonde in Saxonwold naby die Push Pub langs die ou Mamre-Darling-pad gevind.

Regter Robert Henney het die vier Vrydag 31 Mei skuldig bevind nadat die saak in Februarie begin het.

“Goeie samewerking tussen die nasionale vervolgingsgesag, die polisie en die gemeenskap is van kardinale belang in die stryd teen bendegeweld, wat baie gemeenskappe gevange hou,” het die staatsaanklaer, adv. Louise Friester, in die hof gesê.

Friester meen die gemeenskappe van Atlantis en Elsiesrivier is beter daartoe af met die bendeleiers wat jare lank in die gevangenis sal wees.

Erik Ntabazalila, woordvoerder van die nasionale vervolgingsgesag, het na afloop van die hofsaak gesê bendegeweld teen gemeenskappe sal nie langer geduld word nie.

Hy het die getuies in die saak wat “kans gesien het” om te getuig wetende hul lewe was in gevaar, bedank.

“Die gemeenskap moet weet die staat sal alles moontlik doen om getuies te beskerm wat bereid is om op te staan en te help om misdaad te bekamp,” het Ntabazalila gesê.

Regter Henney het in die vonnisoplegging gesê die staat verwerp die artikel 204-getuie, Sulaiman Halliem, se weergawe en kwytskelling vir sy aandeel in die moord word daarmee geweier. Henney het gelas dat die artikel 204-getuie ook aangekla moet word vir Smith se dood.

Meer op bladsy 4.

You need to be Logged In to leave a comment.