Lede van die VGK Avondale het Sondag 29 April vir drama gesorg en selfs die polisie moes ontbied word om vrede tussen gemeentelede te handhaaf.
Die drama het glo begin toe ontevrede lidmate, wat steeds wag op antwoorde oor wanneer die muur om die kerk gebou gaan word, plakkate in die kerk rondgeswaai het. Die ontstoke kerklede het ook op fluitjies begin blaas toe die dominee met die diens wou begin. “Waar is die kerk se geld en waar is die muur het in die kerk weergalm,” vertel Sophia Davids, ’n lidmaat van dié gemeente.
Volgens Davids is daar twee keer reeds geld ingesamel vir die bou van ’n muur, maar niemand kan nou sê waar die geld is nie.
“Elke keer word ons beledig as ons dit durf waag om vrae te vra oor die muur,” sê Davids.
Lisetta Kayfer sê sy is reeds sedert 1978 by die gemeente betrokke en kan nie meer met hoe die predikant dinge doen saamstem nie. Die omgekrapte Kayfer sê die gemeente het strykdeur agter ds. Ralph Campbell gestaan toe hy vir vyf jaar geskors is.
“Ons het tot in die hooggeregshof vir hom baklei,” vertel sy woedend. “Ons het só in hom geglo dat dieselfde mense wat vandag ongelukkig is, hom vir die vyf jaar betaal het toe hy geskors was.”
Lidmate wat die predikant ondersteun, het op hulle beurt geskree dat hulle kerk toe gekom het vir die boodskap en dat die regte prosedures gevolg moet word.
Nie een van die twee groepe wou kop gee nie en die polisie moes tussen beide tree en het die gemeente gevra om die kerk te verlaat.
Volgens ds. Campbell het hy reeds met die groep vergader, “want daar is baie goed wat eers uitgeklaar moet word voordat die muur gebou kan word”.
“Daar moet bespreek word wie die boumateriaal gaan op pas en wie gaan kos vir die werkers maak,” het Campbell gesê.
Hy sê voorts dit was glad nie nodig om die diens te onderbreek nie, want daar is maniere hoe dinge gedoen moet word. Die ongelukkiges moet ’n brief aan die kerkraad rig en as hulle nie tevrede is nie, moet dit met die ring opgeneem word en as hulle steeds ongelukkig is moet hulle die sinode kontak.
Hy sê nie een van die stappe was gevolg nie en kan die kerkraad dus nie ’n saak teen die groep maak nie. Die ontevrede kerklede meen egter dit is met die kerkraad bespreek, maar hul misnoeë val op dowe ore.
’n Brief is ook glo aan die sinode gerig en wag hulle op terugvoering. Ds. Campbell was Sondag 6 Mei nêrens naby die kerk te sien nie, maar het telefonies aan Weskus Nuus gesê hy het geen kennis van die ring ontvang en het aangedui dat hy wel ’n kriminele klag teen die oproeriges ingedien het.