Die Atlantis Sokkervereniging se ligawedstryde het verlede Saterdag begin en daar is reeds groot opwinding.
In die Premierliga het verdedigende kampioene, Aberdeen, hulle wedstryd teen Atlantis Arsenal met 2-1 gewen. Die wedstryd was teen ’n geweldige pas gespeel en albei doelwagters moes akrobatiese keerwerk doen.
Jerome Februarie se Robinvale Spurs het sy aanslag op die titel met ’n 0-0 gelykopuitslag teen FC Bayern van Witsand begin. FC Bayern het in die stryd gewys dat niemand oor hulle loop nie en as hulle doelskieters nie so baie kanse gemors het nie, kon hulle volpunte gekry het. Spurs het ’n baie jeugdige span en behoort eersdaags tot hul volle potensiaal te speel.
Atlantis City, wat een van die voorbokke is om die titel te wen het baie gemors in hul 3-3 uitslag teen Jomos Power. Cities was teen rustyd met 3-1 voor, maar baie swak verdediging het toegelaat dat Jomos twee doele behaal het.
Pella Sporting het vir ’n groot verrassing in die Premier Liga gesorg toe hulle Atlantis Leeds United met 3-1 geklop het. Vorentoe gaan hulle nog yslike verrassings lewer en gaan verbeter met elke wedstryd. Soos verwag het Wesfleur vir Chatsworth Rising Stars met ’n rugbytelling van 16-0 vermorsel. Hulle sal elke span in die liga verniel en ’n mens hoop net dat die span nie sal tou opgooi nie.
Saterdag 24 Junie: Aberdeen het hul onoorwonne status behou in die Premierliga, toe hulle Pella Sporting met 2-0 verslaan het. Robinvale Spurs en Jomos Power het die louere met 1 elk gedeel terwyl die telling dieselfde was in die wedstryd tussen Wesfleur en Atlantis City. Parklands was met 5-2 baas teen Chatsworth Rising Stars terwyl die wedstryd tussen Atlantis Leeds United en FC Bayern stopgesit is. Leeds was 1-0 voor in daardie stadium.
Daar is geen Premierwedstryde Saterdag 1 Julie nie, hoewel daar ander wedstryde gespeel word. Sondag 2 Julie word groot SAFA Kaapstad Coke-wedstryde op Robinvale afgehandel.