Die skending van iemand se naam vind deesdae heeltemal te gereeld op sosiale media soos Facebook, Twitter, Instagram en WhatsApp plaas.
Volgens die reg is dit naamskending of laster as iemand doelbewus iets vals of onwaar op sosiale media plaas om ’n slegte indruk van iemand, ’n onderneming, produk of groep te skep of om hulle te verneder. Só ’n plasing skend die slagoffer se naam en eer (reputasie) in die gemeenskap.
Volgens die prokureurs Malan Lourens Viljoen Ingelyf bly die bewys van ’n onwaar “skinderstorie” oor ’n slagoffer op sosiale media agter. Selfs nadat dit afgehaal word, draai skermgrepe, “likes” en “shares” nog in die kuberruim vir almal om te sien. “Deur dit te like of te share dra mense by tot die verspreiding van die lasterlike opmerking en is dié mense net so skuldig soos die oorspronklike skrywer.”
Frans Marx skryf op LitNet dat die lasterlike plasing van ’n stelling oor iemand anders, op ’n eie of op iemand anders se “muur”, kan lei tot die vervolging van “vriende”, wat in die kommentaar (comments) ook laster pleeg, asook ’n tweede persoon wat in die plasing gemerk (getag) is. Hierdie optredes dui volgens Marx daarop dat dié mense met die lasterlike bewering saamstem.
Kenmerke van naamskending is dat die plasing:
. Onwaar is en enige redelike regdenkende mens wat dit lees, minder van iemand sal laat dink.
. Doelgerig na die slagoffer verwys.
. Gepubliseer (geplaas) is.
. Skade veroorsaak het deur die slagoffer se menswaardigheid aan te tas. Hy of sy sal dan skadevergoeding daarvoor kan eis. Die reg beskou dit as naamskending.
Dit maak nie saak of net een ander mens of ’n paar duisend mense dié lasterlike opmerking gelees het nie. Die ander probleem volgens Marx is dat die slagoffer se privaatheid geskend word deurdat sy persoonlike besonderhede kwaadwillig saam met of na aanleiding van die lasterlike stelling op ’n openbare forum geplaas word. ’n Koerant kan ook belaster word.
“Mense vergeet dat die oomblik as iets op sosiale media geplaas word, dit as gepubliseer beskou kan word en die ‘publikasie’ is dan onderhewig aan die wette van die media, soos koerante,” sê Miller Bosman le Roux