Little Seed saai groot blydskap

Little Seed, ’n organisasie sonder winsbejag, het verlede Dinsdag (6 Desember) kinders by die VG-kerk van Wesfleur vermaak en onthaal.


Little Seed, ’n organisasie sonder winsbejag, het verlede Dinsdag (6 Desember) kinders by die VG-kerk van Wesfleur vermaak en onthaal.

Little Seed, ’n samewerkingsvennootskap met Badisa en Diaconia, word gelei deur Christine Lewis en ’n groep vroue van die gebied.

Die groep het kinders deur die jaar bygestaan om hul leesvaardighede te verbeter en kulturele aktiwiteite verskaf deur bewusmakingsprogramme vir kinders te hou.

Annastatia Hendricks, ’n graad 10-leerlder by Saxonsea Sekondêr, het haar maats by die geleentheid geïnspireer met ’n gedig wat sy geskryf het.

Brandall Swartz, ’n graad 11-leerder by dieselfde skool, het die ander leerders op sy beurt met poppespel en Kersliedere vermaak.

Brandall, wat die kinders tydens die poppespel- en blokfluitvertoning met pragtige musiek vermaak het, het sowat 40 kinders op hul sitplekke vasgenael gehad.

Pragtige kinderstemme het deur die kerk weergalm terwyl hulle Brandall met sy blokfluit en Kersmusiek gevolg het.

Die verrigtinge is afgehandel toe middagete aan die kinders bedien is.

Hierna het hulle geskenkpakkies ontvang, en hul oë het geglinster van blydskap, waarna hulle met hul nuwe speelgoed gespeel het.

Lewis en haar span bedank al die borge en gemeenskapslede wat bygedra het tot Little Seed, asook die kinders wat altyd gretig is om te luister en aan hul aktiwiteite deel te neem.

You need to be Logged In to leave a comment.