Vrouemaand is hier.

Daar sal nou elke naweek ’n vroue-tee wees en winkels het allerhande bederfies vir die vrou. So wonderlik soos hierdie dinge is, moet ons nie vergeet waarvandaan die dag werklik kom nie.

In Suid-Afrika het vroue van alle klasse en rasse Donderdag 9 Augustus 1956 saam opgeruk na die trappe van die Uniegebou om hul stem teen Apartheid te laat hoor.

Daar is egter vandag nog talle struikelblokke wat vroue vanoor die wêreld in die gesig staar.

Vroue in Saoedi-Arabië kon tot verlede Junie nie ’n motor bestuur nie. Hoe ver sou die motorverkope hier val indien vroue nie hul eie ryding kon hê nie?

Dan meen ekonome dat indien die ekonomie ’n geslag sou hê, dit vroulik sou wees. In vergelyking met mans het ons die groter deel – tussen 70% en 80% – van die land se koopkrag.

En tog word Suid-Afrikaanse vroue, volgens ’n internasionale opname in 2017, steeds minder as mans betaal. Ons verdien $10 vir elke $17 wat ’n man kry.

Ander, kleiner klippies in die skoen sluit in die manier waarop bemarkers ons aandag met pienk advertensies probeer kry. Manne, dit het laas gewerk toe ons agt jaar oud was.

Nog ’n persoonlike klippie is die skok wat my begroet wanneer mense agterkom ek, met my “vreemde” naam, is nie ’n man soos hulle gedink het ek is nie. E-posse word gereeld aan mnr. Malgas geadresseer.

Die geval wat my egter befoeterd gelaat het oor dié algemene aanname, is toe ek ná talle e-posse ’n onderhoud met ’n man gevoer het. Hy kon nie sy ongemak wegsteek nie. Hy het vier keer die onderhoud gestop net om te sê hy kan nie glo ek is toe al die tyd van die skoner geslag nie.

Sou hy dan anders reageer indien hy geweet het die navrae kom van ’n vrou? Ek sidder om daaraan te dink.

En tog kan ek verby hierdie kleiner, dog seksistiese flaters kyk, want wat ek eintlik hierdie Vrouedag wil hê, is die mag om werklik beheer oor my lewe te hê. Ek wil nie onveilig voel wanneer ek bedags vrou-alleen rondbeweeg nie. Ek wil hê my stem en insette moet net soveel soos die ou langs my s’n beteken. Ek wil ’n vrou as president hê, nie net omdat ons dit dan op ons lysie kan afmerk nie, maar omdat sy die mees bekwame mens vir die werk is. Ek wil $7 meer betaal word vir my werk en dieselfde kry as my manlike kollegas (ons doen immers dieselfde werk). Dit kan tog net goed wees vir die sukkelende ekonomie.

Tee en pienk geskenke is oulik, maar help eerder vroue om hul regte uit te leef en te behou, soos daardie 20 000 vroue dit in 1956 wou hê.•Yaël Malgas is ’n joernalis by Weskus Nuus se susterskoerant, Weslander.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • WeskusNuus E-Edition – 9 December 2025
    https://weslander.co.za/weslander-e-edition-11-december-2025/

Gift this article