“Sy was meer as my engeltjie…”

Só het ’n hartseer Lena Skippers haar tweejarige kleinkind, Cleo, Woensdag met Weskus Nuus se besoek beskryf.

Cleo en haar ma, Octavia (22), se lyke was Dinsdagoggend omstreeks 11:00, sowat twee kilometer van waar hulle woon in Adeniumstraat, Protea Park gevind.

Die 35-jarige verdagte wat Donderdagaand in Bellville in hegtenis geneem is vir die dubbelmoord word beskryf as ’n ‘vriendelike ou’ wat glo met die oorledene bevriend was.

Weskus Nuus het Sondagmiddag saam met bure van die oorledenes ’n kransleggingseremonie by die moordtoneel gehou. Die meer as 250 inwoners was steeds geskok oor die voorval.

Raadslede en dr. Ivan Meyer, LUR vir fiansies, het die familie Vrydagmiddag besoek. Inwoners het uitgevaar teenoor die raadslede omdat die bosse nooit afgekap word nie.

Volgens wyksraadslid, Barbara Rass, is die grond vir behuising uitgesit.

Sowat ’n honderd inwoners het gisteroggend (Maandag) buite die Atlantis-hof betoog met plakkate en gevra dat borg geweier word. Volgens Skippers het hulle Saterdag 3 Junie laas vir Octavia en Cleo lewend gesien. “Sy het aan haar niggie gesê sy gaan na ’n vriendin in Witsand om haar hare te vleg. Toe die twee nie Saterdagaand huis toe kom nie, het ons nie onraad vermoed nie.

“Dit was maar haar neiging om Sondag of Maandag terug te kom en sy het nooit sonder Cleo geloop nie,” vertel Lena.

Lena en haar kêrel was op pad terug uit die Kaap toe sy die tyding kry. “Ek het die foon doodgedruk. Ek kon dit nie glo nie.” Sy sê verder sy het haar jongste dogter op die toneel aan haar sweetpakbroek en T-hemp wat sy aangehad het erken. Volgens ’n betroubare polisiebron is baba Cleo se lykie in ’n poel bloed gevind. Sy het ook glo ’n steekwond aan haar lyfie gehad. Kol. André Traut, polisiewoordvoerder, het bevestig dat beide aan ernstige kopwonde dood is. Volgens foto’s wat op sosiale media verprei word, lê Octavia op haar rug en haar gesig is met sand toegegooi. Cleo lê ongeveer ’n meter weg van haar ma.

Die saak is tot 14 Julie uitgestel.

You need to be Logged In to leave a comment.