Sy pas haar getuienis kort-kort aan, is die staat se mening oor die ma van ‘n 14-jarige se getuienis in die saak oor ‘n man wat in die straat doodgeskiet en ‘n kind wat gewond is. Die tiener staan in die Atlantis-landdroshof tereg op aanklagte van moord en poging tot moord.

Volgens die staat verskil die ma se getuienis nou van wat sy vroeër in die oorspronklike borgtogaansoek getuig het.

Die staat, onderleiding van Gino Saaiman, het hierop die hof gevra dat die opname beskikbaar gestel moet word om te bevestig dat haar getuienis verskil.

Die verdediging skop egter vas, want volgens hulle is die getuienis geseël en kan dit nie weer gebruik word nie.

Die hof het die borgaanaansoek uitgestel tot gister (Maandag 10 November) om die twee partye se argumente aan te hoor.

Die aansoek is aanvanklik laat vaar nadat die minderjarige emosioneel uitgebars en die landdros gevra het dat hy eers deeglik geëvalueer word, wat toe gedoen is.

Die nuwe borgaansoek het daarna begin.

Die staat het die kwessie van die ma se getuienis wat nie ooreenstem nie, tydens die aansoek op Donderdag 6 November opgehaal. Sy beweer die kind was tydens die voorval langs haar in die huis. Sy hou ook vol dat hy nie ‘n bendelid is nie.

Die 14-jarige is aangekeer nadat ‘n man in Saxonsea doodgeskiet en ‘n vierjarige kleuter ernstig gewond is.

Die staat het die ma in die aansoek op 8 September behoorlik laat kleitrap.

Landdros Joy van de Hyde moes verrigtinge op twee geleenthede stopsit ná emosionele uitbarstings – eers van die ma en toe van die verdagte.

Volgens Saaiman gaan die ondersoekbeampte presies die teenoorgestelde kom getuig as wat die minderjarige se ma getuig het.

Die ma se volharding dat haar kind die oggend van die gebeure by haar in die huis was, word deur Saaiman verwerp. Hy voer aan dat sy haar getuienis aanpas.

Hy het dit ook aan die hof gestel dat ‘n getuie die seun uit ‘n foto-album as die skieter uitgeken het.

Saaiman wou ook weet hoekom daar sosialemediafoto’s van die verdagte is waarop hy die 28-tronkbendetekens wys.

Volgens die aanklaer is daar oorweldigende getuienis dat haar seun wel ‘n ben-delid is en hy het dit glo self erken.

Saaiman wou ook weet hoekom die verdagte vroeër die jaar by die skool geskors is. Volgens sy ma wag sy steeds vir die skool te verduideliking oor waarom haar kind geskors is.

Op die vraag oor die skorsing het die ma gesê die skool voer aan haar kind is met ‘n handgemaakte vuurwapen skool toe.

Die skietmoord het skokgolwe deur die gemeenskap gestuur en baie aandag op sosiale media gekry.

Die kleuter sterk steeds in ‘n Kaapse hospitaal aan nadat sy ‘n noodoperasie ondergaan het.

Volgens Kapt. Lisa Munro, ‘n polisie-woordvoerder, is die kind van agter geskiet en is die koeël voor by haar maag uit.

Die verdagte het deur sy regsverteenwoordiger gevra om hom borgtog toe te staan omdat hy geen vorige veroordelings óf hangende sake teen hom het nie.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • WeskusNuus E-Edition – 9 December 2025
    https://weslander.co.za/weslander-e-edition-11-december-2025/

Gift this article