’n Ma van twee se ergste vrees het in ’n werklike nagmerrie ontaard, en nou voel sy die stelsel faal haar.
Chelsea Whittaker (25) het met trane in haar oë aan Weskus Nuus verduidelik sy het die afgelope maand slapelose nagte oor haar twee kinders, onderskeidelik 1 en 4 jaar oud, wat nou vermoedelik in Bangladesh is.
Whittaker sê alles het verlede jaar begin toe haar man, ’n Bangladeshi, in Oktober glo in Epping ontvoer is. Die ontvoerders het glo R5 miljoen geëis om haar man vry te laat.
“Met sy terugkoms by die huis het hy gesê ons moet wegkom aangesien die ontvoerders gaan terugkom en almal kom doodmaak. Hy het voorgestel ons moet Malawi toe gaan om ’n nuwe lewe weg van almal te begin,” vertel sy.
“Omdat hy oor sy familie bekommerd was, het ek ingestem, en dit is waar die probleme begin het. Dit was meer ’n living hell daar, omdat hy my begin abuse het. Hy het ook seker gemaak ek het nie kontak met my vriende en familie hier nie,” beweer sy.
Whittaker, wat byna agt jaar met haar man getroud is, sê sy het onlangs uitgevind hul huwelik was nooit wettig nie.
“Hy het net een dag in September gesê dinge werk nie uit in Malawi nie en ons moet maar terugkeer. Die woorde was soos ’n droom wat waar geword het, omdat ek my familie baie gemis het.”
Whittaker sê haar man het egter een voorwaarde gehad – hy wou die kinders na hul grootouers in Bangladesh neem.
“Nadat ek vasgeskop het, het hy vir my die retoerkaartjies gewys. Alles het reg gelyk en ek het die grootste fout van my lewe gemaak,” erken sy.
Volgens Whittaker het hy haar oorreed om solank na Suid-Afrika terug te keer. Hy en die kinders sou glo twee weke daarna by haar aansluit.
Sy sê sy het skaars ’n voet uit die bus terug by die huis gesit toe sy die boodskap kry: “Jy sal nooit weer die kinders sien nie”.
Dit is die dag wat alles verander het, vertel sy.
“Ten spyte van my hulpkrete het almal gesê ek moet ’n klagte by die polisie aanmeld, maar toe ek die saak wou aanmeld, het almal gesê ’n pa kan nie sy eie kinders ontvoer nie. Dit was die woorde van ’n voormalige waarnemende takbevelvoerder van die Milnertonse eenheid vir gesinsgeweld, kinderbeskerming en seksuele misdrywe,” vertel sy. Weskus Nuus het navrae aan Milnerton- en Atlantis-polisie gerig om te bevestig of dit wel die geval is. Weskus Nuus is aangeraai om met die provinsiale polisiewoordvoerder te skakel wat nie teendruktyd kommentaar kon lewer nie.
Weskus Nuus is wel in besit van ’n saaknommer vir die ontvoering van Whittaker se kinders.
Die ma vertel sy het besluit om terug te gaan Malawi toe, want sy het gedink hy sou nie sonder haar met die kinders kon vertrek nie, maar vermoed hy het “sy weg uit die land gekoop”.
Whittaker meen die stryd om haar kinders terug te kry, het nou eers begin. Sy word ondersteun deur die Survivors Haven-stigting.