Maak gereed vir Mamre-blommefees

Tussen 15 en 17 September beloof Mamre ’n miernes van bedrywighede te wees met die jaarlikse Mamre-blommeskou wat hier plaasvind.


Tussen 15 en 17 September beloof Mamre ’n miernes van bedrywighede te wees met die jaarlikse Mamre-blommeskou wat hier plaasvind.

Vanjaar se fees, wat weer by die Werf en Park in Mamre gehou word, beloof om hope pret en plesier vir die hele familie te verskaf.

Toegangsgeld vir volwassenes is R30 en R10 vir kinders.

Allister Izobell is die hooftrekpleister vir Vrydagaand en is van 20:00 op die verhoog. Loukmaan Adams is Saterdagaand aan die beurt van 19:00 met verskeie plaaslike talent wat regdeur die dag feesgangers sal vermaak.

Saterdagoggend is daar ook ’n “cross country walk” vir diegene wat graag hul stapskoene aantrek. Inskrywingsgeld is slegs R10 (volwassenes) R5 (kinders). Jy kan op die dag inskryf en die pretloop begin om 09:00.

Feesverrigtinge vir Sondag sluit in Universiteit van Kaapstad se operaskool, in samewerking met Kaapstad Opera, onder leiding van Jose Dias, wat verskeie gewilde arias en klassieke, onsterflike melodieë sal opvoer. Kaartjies teen R60, kan by Thys Greeff bespreek word: 082 749 4457 of thysgreeff@isat.co.za.

Kom en smul aan heerlike kontreikosse, tuisgebakte brood en konfyt. Koop ook sommer nou al tuisgemaakte produkte vir Kersfees by die stalletjies. Of ervaar die rustigheid van die sendingdorp deur ’n middagete by die restaurant te geniet. Bring jou vriendinne en kom geniet die asemrowende omgewing terwyl jy tee (of koffie) drink in die teetent, by die Lobensaal.

Vir meer inligting bel Rose Davids by 083 692 0356.

  • Weskus Nuus is vanjaar die amptelike mediaborg van die Mamre-blommefees. Besoek gerus ons Facebookblad by www.facebook/Weskusnuus om uit te vind hoe jy kaartjies na die Mamre-blommefees kan wen.

You need to be Logged In to leave a comment.