Mamre-7’s val net-net vas

Dit was Saterdag só naby – maar tog ook so ver – vir Mamre se 7’s-rugbyspan, wat aan die Wesbank-7’s-toernooi deelgeneem het.


Dit was Saterdag só naby – maar tog ook so ver – vir Mamre se 7’s-rugbyspan, wat aan die Wesbank-7’s-toernooi deelgeneem het.

Mamre het hul laaste twee toernooie, die OK Mamre-7’s-toernooi en die soortgelyke toernooi in Moorreesburg, gewen, en ’n derde was binne bereik toe die span van Kenny Stadler in die eindronde 7-12 teen die verdedigende kampioen, St. Georges, vasgeval het.

Mamre, wat rustyd 0-7 agter was, het die telling egter met skitterende spel gelyk gemaak, met 7-7 wat die aanvanklike eindtelling was. Met die valbylreël, wat verklaar dat die span wat eerste punte aanteken, sal wen, het die groen truie vinnig aangeval.

Mamre het egter besit verloor en die verdedigende kampioen het die wenpunte aangeteken.

Mamre se toernooi het baie wankelrig met ’n gelykopuitslag en daarna ’n nederlaag begin.

Stadler het egter sy troepe bymekaar gehou en met Hamlets se naasbestes wat in hul laaste groepwedstryd geag het, was ’n nederlaag of nog ’n gelykopuitslag nie ’n opsie nie.

Mamre het 26-0 gewen, wat die span na die uitspeelronde laat vorder het.

Hamlets het ook die uitspeelronde gehaal nadat die span twee oorwinnings in hul groepfase behaal het. Hamlets het in die top-16 met 0-26 teen Hillcrest United vasgeval terwyl Mamre die versneller dieper ingetrap en All Saints se naasbestes 26-17 geklop het.

Mamre het daarna die gasheer 10-7 getroef vir ’n plek in die halfeindstryd.

Die span, wat met elke uitspeelwedstryd net beter en beter geword het, moes met Macassar afreken om sy een hand op die trofee te plaas.

Mamre het egter gewys die twee trofeë, wat die span dié seisoen gewen het, was nie net geluk nie en sy ondersteuners met ’n 14-12-oorwinning laat brul van plesier. Die winderige toestande het egter nie die groentruie van stryk gebring nie.

Mamre het moedig probeer, nooit opgegee nie en sy teenstanders tot die uiterste beproef. Die verdedigende kampioen, wat reeds laat verlede jaar in die Mamre OK-toernooi teen die gasheer vasgeval het, het egter wraak geneem en gewys hoekom dié toernooi sy gunsteling is. Mamre sal Saterdag in Darling probeer om nog ’n trofee by sy versameling te voeg.

You need to be Logged In to leave a comment.