Die Boland-grootuitdaagreeks het 18 Maart afgeskop.
Mamre-rugbyklub het teen St. Helenabaai te staan gekom en die wedstryd met 28-19 verloor.
Tenspyte van talle hanteerfoute, het Mamre se Edwin Okkers eerste punte aangeteken met ’n strafskop uit sy halfgebied. Die baaienaars het daarna die besoekers se doellyn twee keer oorgesteek. Okkers het egter die telbord aan die rol gehou en weer ’n strafskop oorgeklits om die rustydtelling 12-10 te maak.
Mamre het vroeg in die tweede helfte verskeie veranderings aan die agtal aangebring. Die voorspelers het meer bestendig teen die swaarder voorspelers vertoon, maar die tuisspan het die voordeel van die sterk wind agter hul blaaie gehad.
St. Helenabaai het hul bonuspunt in die 60ste minuut behaal met hul vierde drie. Mamre het ’n strafskop reg voor die pale afgedwing met vernuftige balbeheer. Okkers se poging is egter deur die sterk wind gekelder. Met die bal wat in die lug hang, het Duane Cupido die kans gesien en onder die pale gaan druk, wat deur Okkers verdoel is. Die Baaienaars het die laaste 10 minute van die wedstryd verwoed aangeval en is beloon met ’n vyfde drie om die telling 28-19 te maak. Saterdag 25 Maart moes Mamre les op sê toe hulle met 19-41 vasgeval het teen Velddrif. Edwill Okkers het drie strafdoele aangeteken, terwyl Gurswin Wilson en Dillion Adams agter die pale gekuier het. Mamre speel Saterdag tuis teen Wesbank.
- Boland SwartWes-streekuitdaag: Saterdag 25 Maart het Young Hearts van Pella vir Coronations van Kalbaskraal met 10-0 geklop. Barry Adonis het kort voor rustyd die drie aangeteken, wat Jade Solomons verdoel het. Solomons het ook ’n strafskop in die tweede helfte oorgeskop. Swak dissipline het amper die wenspan gekniehalter met drie geelkaarte en ’n rooikaart wat uitgedeel is. Saterdag 1 April reis Pella na Piketberg.
- WP Superliga: Hamlets het Saterdag 18 Maart vir Primrose op Saxonsea geklop met 26-19. Hul eerste superliga-wedstryd is op 8 April weg teen Paarl.
- WP Suid-afdeling: Atlantis begin hul WP-wedstryde op 1 April teen Retreat en 8 April teen Young Wesleys. Albei is tuiswedstryde.