Mamre-behuising ‘kan nou voortgaan’

Inwoners van Mamre het by ’n inlig­tings­vergadering met die Mamre-vereniging vir gemeenskaplike eiendom (MVGE) die groen lig gegee vir ’n behuisings­ontwik­keling in die dorp.


Inwoners van Mamre het by ’n inlig­tings­vergadering met die Mamre-vereniging vir gemeenskaplike eiendom (MVGE) die groen lig gegee vir ’n behuisings­ontwik­keling in die dorp.

Die MVGE het Donderdag 12 April met inwoners vergader om die volgende stap van die ontwikkeling te verduidelik.

Volgens die ondervoorsitter van MVGE en voorsitter van die behuisingsportefeulje, Wilfred Solomons-Johannes, het die gemeenskap die komitee ’n mandaat gegee om met die Kaapse stadsraad te onderhandel vir die projek wat meer as 1 000 behuisings­geleenthede sal skep.

Inwoners wat by die vergadering krapperig met die komitee wou word, was deur die komitee vinnig op hul plek gesit. Hulle ongelukkigheid spruit uit die feit dat hulle onmiddellik huise wil hê.

Inwoners was by die vergadering eens die komitee van die MVGE moet die bal aan die rol sit sodat dinge kan begin gebeur.

Solomons-Johannes het op sy beurt aangedui ’n vergadering met burgemeester Patricia de Lille is reeds vir Donderdag 26 April gereël om verskeie kwessies, insluitend behuising, met haar te bespreek.

Onwettige strukture in Mamre se woonbuurte het enkele dae ná die vergadering begin opgeduik. Volgens Solomons-Johannes het die Stad Kaapstad se teengrondbesettingseenheid drie onwettige informele strukture op Saterdag 14 April gesloop.

Die MVGE meen hy sal nie toelaat dat enige inwoners onwettig plotte afmerk en strukture oprig, terwyl die meerderheid wetsgehoorsame inwoners in opgewondenheid wag op die beplande behuisingsontwikkeling nie.

MVGE doen ’n beroep op die breër gemeenskap om die gemeenskaplike grond te beskerm teen mense wat die wet ignoreer en daartoe kan lei dat die behuisingsgeleentheid belemmer kan word.

You need to be Logged In to leave a comment.