Vir die klein Morawiese sendingsdorpie met sy “gruispaaie sonder ligte”, was 23 Oktober 1996 ’n besonderse dag.
Dit was ’n dag waarvoor lank gebid is en na jare se gewag, het die biblioteek uiteindelik op hierdie dag vir die eerste keer sy deure oopgemaak.
Die rol van die Mamre-biblioteek in die gemeenskap oor die 20 jaar is tydens die feesvieringe Vrydag, by monde van oud-werknemers, gemeenskapslede en politici, in herinnering geroep.
Die biblioteek bedien nie net die gemeenskap van Mamre nie, maar ook Pella en omliggende plaasgemeenskappe.
Dit is ’n baken van hoop in die gemeenskap, waar nuwe vaardighede aangeleer word, waar ongeletterdes vir die eerste keer kan sin maak van die letters wat eens soos hiërogliewe voor hulle gelê het.
Senior biblioteekpersoneel het vertel van die vriendelike mense wat hulle soos familielede verwelkom het in die gemeenskap. Die biblioteek se personeellede spog ook met 20 jaar diens aan die gemeenskap.
Rdl. Cynthia Clayton, wyksraadslid vir wyk 29, sê sy is bevoorreg dat al drie biblioteke in Atlantis in haar wyk is.
“Die Mamre-biblioteek is klein, maar die boeke wat hier lê is insiggewend. Ons volk gaan verlore weens ’n gebrek aan lees,” het sy genoem. Sy het ook belowe dat raadslede sal help om selfs ’n beter diens aan die gemeenskap te lewer.
Charmaine Pietersen, een van die eerste senior bibliotekaresses, het tydens die feesvieringe gesê: “’n Biblioteek behoort aan die gemeenskap.”
Van die vaardighede wat gemeenskapslede oor die jare by die biblioteek kon aanleer is volwasse onderrig, blommerangskikking, en naaldwerk.
Una Pick, voormalige raadslid en onderwyser, het vertel hoe inwoners se trane geloop het die dag van die inhuldiging. “Mamre-inwoners het gedroom van ’n biblioteek en vandag kan ons die vrugte hiervan pluk.”
Phillipina Appollis, destydse hoof uitvoerende beampte vir die Blaauwberg-munisipaliteit, het gesê die bou van die biblioteek was ’n goeie belegging en het ouers gemaan om hul kinders aan te moedig om te lees.