Mamre-rugbyklub sal vinnig moet opstaan, hul koppe lig en harder oefen as hulle volgende seisoen nog in die Boland-Grootuitdaagreeks wil speel.
Die groentruie is Saterdag 1 April voor hul tuisskare verneder toe Wesbank hulle met 57-14 verslaan het.
Mamre, wat in hul vorige wedstryde gesukkel het met hul skrumwerk, het baie verbeter in dié afdeling en het die besoekers voos geskrum, maar voorspelers wat in die agterlyn boer het baie kanse verbrou met hanteerfoute.
Volgens afrigter, Garth Liedeman, was hul verdediging pateties en het verkeerde besluitneming sy span baie kosbare punte gekos. Mamre het in die tweede helfte gewys daar is twee spanne op die veld en is beloon met twee drieë deur Brian Prins en Waldick Gericker, wat albei deur Edwil Okkers verdoel is.
Wesbank, wat tans onoorwonne is, het reeds in die 20ste minuut hul bonuspunt verdien en het gaan water drink met die telling 45-0. Mamre, wat na drie wedstry-de nog nie die soet van ’n oorwinning kon proe nie, is tans laaste op die punte-leer en moet die vissermanne van Saldan-ha hierdie week in ’n weg-wedstryd pak.
.Mamre het weer Saterdag (8 April) aan die agterspeen gesuig toe Saldanha op laasgenoemde se tuisveld die besoekers van die veld gespeel het. Mamre, wat tans een van sy moeilikste seisoene beleef, is met 53-7 geklop nadat die tuisspan reeds 25-7 voor was teen rustyd.
Die besoekers het niks gehad om oor te juig nie en slegs drie spelers het regmerkies agter hul naam gekry, sê afrigter, Garth liedeman.
Volgens Liedeman, het sy span ’n volle twee weke om hulself reg te ruk en is dit nou terug na die tekenbord vir hulle, veral omdat die span se verdediging dringend aandag nodig het.
Liedeman sê hy verwelkom die terugkeer van ’n paar sleutelspelers, wat met beserings gesukkel het en ook Patrick Oppelt wat weer sy voete vind in die eerste span. Liedeman sê Operasie Wen begin 22 April wanneer Darling kom besoek aflê in Mamre.
- Young Hearts van Pella het Saterdag 1 April byna vir ’n verrassing gesorg toe hulle die tuisspan, Piketberg, vir meer as 70 minute in ’n wurggreep gehad het in ’n Boland-Streekuitdaagbekerwedstryd.
Piketberg, wat eerste bloed geruik het met ’n strafskop het 3-0 voorgeloop, toe Pella na ’n hoër rat oorgeskakel het en met ’n drie van Mozean Davids geantwoord het, wat deur Jade Solomons verdoel is.
Solomons het nog drie punte bygevoeg met ’n strafskop om die besoekers met 10-3 voor te plaas, voor die tuisspan teruggeslaan het met ’n drie om die rustydtelling 10-8 in die guns van die besoekers te maak.
Die wipplank-stryd is in die tweede helfte hervat toe Barry Adonis oorgeval het vir Pella se tweede drie om die besoekers se voorsprong te rek na 15-8. Die tuisspan het egter nie laat slap lê nie en het met ’n strafskop hul agterstand laat krimp na 15-11. Dit is egter die laaste 10 minute wat nog lank by Pella gaan spook toe die tuisspan die wendrie druk om die telling 16-15 te maak. Pella het egter nog een kans gekry om die bordjies te verhang, maar Kurwin Snell het met die moeilike strafskop misluk. Pella het vir die volgende drie weke loslootjies en speel weer op 22 April teen Hopefield.
- Hamlets het Saterdag 8 April sy eerste Westelike Provinsie Super Liga B-wedstryd weg op Faurestraat teen Paarl gewen.
Die eindtelling was 40-34 nadat Hamlets met rustyd 19-17 voor was. Die topspan van Mamre het met hardloop-rugby die manne van Paarl voos gehardloop en die fiksheid van die geeltruie gaan nog baie wedstryde dié seisoen vir Hamlets laat wen.
Die ondersteuners van Hamlets het byna hartaanvalle gekry toe Paarl in die eerste minute van die tweede helfte twee drieë druk om 29-19 voor te loop. Hamlets het egter gou daarna hulself reggeruk en die wedstryd totaal oorgeneem en beheer. Hamlets se ses drieë is deur Isaac Davids, Albrain Davids, Faber Nonnies (in eerste helfte), Jaco Oppelt, Robin Davids en Glynn Carelse (in tweede helfte) behaal. Keanon Okkers het vier doelskoppe oorgeskop terwyl Angelo van Niekerk ook ’n doelskop oorgeklits het. Hamlets se volgende wedstryd is op 22 April tuis teen Kuilsrivier, wat verlede seisoen in die Superliga A deelgeneem het.
- Atlantis het albei sy eerste twee Westelike Provinsie Suid-streekwedstryde op sy tuisveld verloor. Op Saterdag 1 April het hulle 14-26 teen Retreat pak gevat en 8 April 15-27 teen Young Wesleys. Hul volgende wedstryd is ook tuis teen Bishop Lavis op 22 April.