Mamre-familie dakloos ná erge stormweer gelaat

Die stormsterkwinde wat die Kaap verlede week getref het, het ook sy spoor van verwoesting in Mamre agtergelaat.


Die stormsterkwinde wat die Kaap verlede week getref het, het ook sy spoor van verwoesting in Mamre agtergelaat.

Die Boois-familie van Kortstraat in Mamre is Dinsdagaand dakloos gelaat nadat sterk winde die dak afgewaai het.

Pietie Boois (44) vertel hulle het die aand na 22:00 die sterk winde gehoor en hy kon nie juis slaap met die wind wat so aan die dak ruk nie.

“My ma, wat sieklik en doof is, het net uit die toilet gekom en op die bed gaan sit toe die wind besluit daar is te min ventilasie in die huis. Sy kon nie die geraas hoor nie en ek het opgestaan en gaan kyk toe ek sien die hele kamer is dan oop.

“Ons moes onmiddellik my ma by familie gaan aflaai, want die reën het alles natgemaak. Ek moes maar die koue trotseer terwyl die res van die familie steeds by ander familie bly. Die reën het baie van ons meubels beskadig en byna al die kaste in die huis val uitmekaar,” sê Boois.

Die dak het op die bure se afdak beland en ook baie skade dáár aangerig. Buurvrou, Irene Collins, sê hulle het nie aan die skade gedink nie.

“Almal het saamgestaan om die familie in die koue te ondersteun.”

Met Weskus Nuus se besoek Woensdag aan die familie het bure skroewe en planke aangedra om weer die huis woonbaar te maak.

Wyksraadslid Cynthia Clayton, het die familie besoek en gereël dat daar bystand met dakplate en kospakkies verleen moet word.

You need to be Logged In to leave a comment.