Mamre-gesin verloor als

’n Gesin van Mamre sê hulle voel dankbaar nadat die gemeenskap saamgespan het om hulle te hulp te snel nadat hulle alles in ’n brand verloor het.


’n Gesin van Mamre sê hulle voel dankbaar nadat die gemeenskap saamgespan het om hulle te hulp te snel nadat hulle alles in ’n brand verloor het.

Christine van Niekerk vertel sy was Saterdagoggend na ’n weeklange vakansie terug en het haar huis skoongemaak toe sy rook in die sitkamerplafon sien.

“Ek het eers gedink dit is net ’n draad, maar die rook het al dikker begin uitborrel. Toe my vyfjarige kleinkind verskrik uit die kamer gehardloop kom met oë so groot soos pierings, het ek geweet iets is verkeerd,” vertel sy.

Van Niekerk het besef haar ander kleinkind van ses maande is nog in die kamer waar die twee kinders gesit en TV kyk het. Die vertrek was reeds vol rook en die plafon was in ligte laaie. Die bed waarop die baba gesit het, was reeds besig om te brand.

“My bure en ander mense in die straat was gou daar en ons kon die kleintjie na veiligheid bring. Die brand het baie vinnig versprei en ten spyte van almal se pogings kon ons die brand eenvoudig nie blus nie,” vertel Van Niekerk.

Die huis waar die ma van drie saam met haar kinders en twee kleinkinders gewoon het, sal dalk gesloop moet word.

Van Niekerk sê die feit dat hulle alles verloor het, het nog nie behoorlik ingesink nie.

“Ek is net dankbaar dat ons die kleintjie, wat tweedegraadse brandwonde opgedoen het, betyds kon uitbring,” sê sy.

Die familie bedryf ’n kleuterskool uit ’n gebou agter die huis, maar weens die skade aan die hoofhuis word niemand op die perseel toegelaat nie.

“Ek het nooit geweet die Mamre-gemeenskap het sulke groot harte nie. Ek word daagliks met hulp genader. Een vrou het selfs haar huis aangebied sodat die kleuter-skool kan voortgaan.”

Die kettingwinkel Pick n Pay in Atlantis het die familie ook te hulp gesnel deur ’n koopbewys aan hulle te skenk.

Alhoewel die oorsaak van die brand nog nie bepaal is nie, sê Van Niekerk sy vermoed dit was ’n kortsluiting.

You need to be Logged In to leave a comment.