Mamre het Paternoster Saterdag op sy tuisveld onthaal en het 30-24 koning gekraai. Die span was telkens op die aanval en het die wendrie só behaal.Foto: Murphy Roberts


Mamre het Saterdag met sy bonuspunt-oorwinning oor Paternoster op sy tuisveld die agterdeur na die uitspeelronde wawyd oopgemaak.

Die tuisspan was rustyd 13-19 agter, maar het in die tweede helfte gewys hulle wil uitspele toe en 30-24 gewen.

Jaco Oppelt, kaptein van die groen truie, het van voor gelei en is goed deur sy voorspelers ondersteun. Veral die veteraan Kenny Stadler, wat tans met ’n tweede asem speel, was aggressief.

Mamre, wat die vierde plek op die punteleer beklee, is egter net een punt agter Vredenburg (derde) en ses agter Langebaan, wat in die tweede plek is. Mamre, wat nog drie wedstryde oor het, moet nog al twee dié spanne pak en sy lot is dus in sy eie hande.

Die span reis hierdie Saterdag na Velddrif en sal slegs met ’n bonuspuntoorwinning tevrede kan voel.

In nog ’n Grootuitdaagligawedstryd het Young Hearts Saterdag die span van St. Helenabaai 31-25 op die grafkelder begrawe. Die wedstryd, wat baie gelyk was en enige kant toe kon swaai, is egter beter deur die tuisspan benut.

Young Hearts, wat eerskomende Saterdag ’n ruskans geniet, is tans in die vyfde plek op die punteleer.• Hamlets het Saterdag sy Westelike Provinsie-Superliga A-drome op sy tuisveld lewendig gehou toe hy Goodwood 48-31 geklop het nadat die besoekers rustyd 21-17 voor was. Die besoekers het in die tweede helfte hul voorsprong vergroot en in ’n stadium 31-17 voorgeloop. Hamlets het egter koelkop gebly en die druk goed verwerk.

Die 20-jarige spoedvraat Jamiel Solomons het egter die besoekers se wenkanse met drie drieë in ’n nagmerrie omgeskep.

Hamlets reis Saterdag na Bellville, (tweede op die punteleer) en sal vir seker nie sy voet wil lig nie.

Hamlets, wat nog vier wedstryde oor het, kan Saterdag die eerste plek op die punteleer inneem as hy ’n bonuspuntoorwinning kan aanteken.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • WeskusNuus E-Edition – 11 November 2025
    WeskusNuus E-Edition – 11 November 2025