Die voorgestelde behuisingsprojek vir Mamre is in volle gang en geniet tans aandag van Wilfred Schrevian, die ondervoorsitter van Mamre se dorpsgemeenskap- en eiendomsvereniging (MCPA) en voorsitter van die behuisingsportofolio, Evan Solomons-Johannes.
Volgens Solomons-Johannes het die MCPA 13 Maart ’n vergadering met die Stad Kaapstad gehou om die ooreenkoms met hom te bespreek oor die beskikbaarheid van grond wat aan die inwoners behoort. Hy se voorts die Stad kan niks sonder die ooreenkoms doen nie en ’n dringende brief is reeds aan die departement van landelike ontwikkeling geskryf om die proses te bespoedig en ’n vergadering sal nog voor die einde van Maart met al die rolspelers gehou word om ’n ooreenkoms te bereik.
“Die studies rakende die uitvoerbaarheid en die publieke deelname vir die voorgestelde projek wat meer as 1 000 behuisingsgeleenthede sal skep, behoort teen Julie hierdie jaar afgehandel te wees,” sê hy trots. “Hoewel omgewing- en ontwikkelingsgoedkeuring nog verkry moet word. Volgens Solomons-Johannes is dit ’n groot gebeurtenis vir die inwoners van Mamre omdat behuising ’n probleem is en het hy die gemeenskap gevra om hulle te ondersteun met hulle insette. Hy se voorts enige teenkanting kan die projek laat skipbreuk ly.
Raadslid Chyntia Clayton het by die subraadsvergadering, wat 16 Maart gehou was, ’n mosie ingedien oor twee behuisingprojekte in Avondale en Saxon Sea. Clayton het by dié vergadering gesê die grond in Bonaventurastraat in Avondale en Mexinstraat in Saxon Sea is geskik vir behuising vir inwoners wat tussen R3 500 en R15 000 verdien en sê die grond lê vir baie jare onaangeraak. Clayton het haar mosie gemotiveer deur te sê dat onwettige storting en gras wat gereeld gesny moet word die stad baie geld kos en die departement sukkel om die terrein te onderhou. Die mosie is deur die vergadering aanvaar en Clayton het belowe dat daar aan die projek gewerk gaan word.