Mamre-rugby, wat verlede seisoen een van die agterosse in die Boland-grootuitdaagreeks was, het gewys dat die span ’n gedaanteverwisseling ondergaan het met die nuwe afrigter Graig (Yster) Schoeman aan die stuur.
Mamre se jong onervare span het Saterdag 17 Februarie in ’n voorbereidingswedstryd teen Darling op laasgenoemde se tuisveld so byna die wa deur die drif getrek.
Darling het die wedstryd teen ’n vinnige pas begin en Schoeman se plan om met die onervare span te begin het byna in sy gesig ontplof toe die tuisspan teen rustyd reeds met 21-5 voor was.
Mamre se beginspan het in die eerste tien minute rigtingloos en onfiks voorgekom en die tuisspan het behoorlik baljaar in die vaste fasette van die wedstryd.
Die besoekers het heeltemal te veel hanteerfoute gemaak en kon nie die voordeellyn oorsteek nie.
Schoeman het rustyd ’n paar van sy sleutelspelers speelkans gegee en verlede seisoen se uitblinker en wedstrydwenner, Edwil Okkers, het ’n groot verskil in die agterlyn gemaak en met heelwat veranderings in die vaste vyf moes die tuisspan sy keerwerk ken.
Okkers het die tuisspan se voordeellyn aangeval en sy span op die voorvoet gehou. Dine de Kok, plaasvervangerstut, het sy geleentheid aangegryp en met sy stormlopies ver veld gewen.
Hy is ook beloon vir sy skitterspel toe hy deur die tuisspan se verdediging gebars het vir ’n pragdrie.
Mamre, wat in die eerste 40 minute nie die mas in die skrums kon opkom nie, het egter in die tweede helfte beter geskrum en gewys dat met bietjie skaafwerk die span beslis baie diepte het en die afrigtingspan nie slapelose nagte hoef te hê nie.
Mamre het die tuisspan se swak dissipline behoorlik uitgebuit en Okkers het met sy lynskoppe ver veld gewen.
Met 26-33 het die besoekers ’n kans gehad om die louere met die tuisspan te deel, maar die span se gretigheid het ten einde sy ondergang gekos.
Mamre het Saterdag 24 Februarie met 19 elk gelykop teen die span van Riebeek-Wes op laasgenoemde se tuisveld gespeel.
. Pella het Saterdag 17 Februarie voortgebou op sy welslae vir die voorbereiding vir die seisoen wat amptelik 10 Maart gaan afskop, toe die span die bewaarders van Voorberg-gevangenis behoorlik laat les opsê het.
Pella het gewys dat dinamiet in klein pakkies voorkom en het die besoekers met sy groot spelers behoorlik gedril. Met die rustydtelling 26-7 in die tuisspan se guns, het Abels-spelers ’n laaste kans gegee om te beïndruk.
Volgens Abels-afrigter van Pella was sy span se fiksheid deurslaggewend en kon die spelers in die laaste 20 minute 32 punte aanteken om die wedstryd maklik met 57-7 te wen.
Pella het Saterdag 24 Februarie die span van Dassenberg met 33-16 in sy voorbereiding vir die seisoen geklop. Pella speel in sy eerste ligawedstryd Saterdag 10 Maart teen Hopefield tuis, terwyl Mamre die span van Velddrif onthaal.