Mamre moet veggees toon

Mamre-rugbyklub het Saterdag 19 Mei sy derde agtereenvolgende nederlaag in die Weskusstreek van die Bolandgrootuitdaagreeks gely toe die span in Vredenburg teen die gasheer met 20-43 vasgeval het.


Mamre-rugbyklub het Saterdag 19 Mei sy derde agtereenvolgende nederlaag in die Weskusstreek van die Bolandgrootuitdaagreeks gely toe die span in Vredenburg teen die gasheer met 20-43 vasgeval het.

Mamre, tans een van die agterosse op die punteleer, moet nog die soet van ’n oorwinning proe en kon nog nie ’n enkele punt verdien nie.

Die Groentruie het die wedstryd goed begin, maar die krake het later in die wedstryd groter en groter geraak tot die span nie meer al die gate kon toestop nie.

Vredenburg, met sy swaarder agttal, het die wedstryd gedomineer en die spanne het gaan water drink met Vredenburg wat met 21-5 voorgeloop het.

Mamre het die tweede helfte goed begin en Bradwin Prins (twee drieë) het vir ’n solodrie van 70 m die span weer hoop gegee. Mamre het wel ’n beter tweede helfte beleef, maar die afrigtingspan onder leiding van Graig Schoeman en Kenny Stadler, sal beslis moet aandag aan die span se verdediging skenk, want dit het die span lelik in die steek gelaat.

Die Groentruie sal ook meer karakter en veggees moet toon as hy enigsins ernstig opgeneem wil word.
. Mamre het Saterdag 26 Mei die omgekrapte snoekvangers van St.Helenabaai gepak en sodoende sy vierde nederlaag gely toe hy met 22-32 vasgeval het. Mamre het komende Saterdag ’n loslootjie.

. Die span speel tans al sy wedstryde weg en sal hoop dat die toestand van die veld spoedig verbeter.

Terwyl Mamre sukkel, loop sy buurspan, Young Hearts van Pella, stert in die lug nadat die span sy derde bonuspuntoorwinning behaal het. Pella, wat tans die pas aangee op die punteleer, het Saterdag 19 Mei die besoekers uit Velddrif met die kous oor die kop huis toe gestuur. Pella het die wedstryd goed begin en was gou 19-0 voor. Die span het konsentrasie verloor en die besoekers het stadig maar seker teruggeveg en was rustyd welverdiend met 20-19 voor. Pella het egter in die tweede helfte gewys hy behoort lankal in grootmens­geselskap toe die besoekers net moes verdedig. Die tuisspan het met rotsvaste verdediging die besoekers geen kans gegun en die flambojante agterlyn het nie teleurgestel. Hulle sal egter moet waak teen die verlies van konsentrasie, want dit mag hulle dalk nog kelder. Young Hearts het Saterdag 26 Mei sy droomdebuut voortgesit toe hy die span van Langebaan in ’n wegwedstryd met 42-34 geklop het om sy vierde agtereenvolgende bonuspuntwen te behaal. Pella pak Saterdag 2 Junie die span van Vredenburg.

You need to be Logged In to leave a comment.