Mamre het Velddrif Saterdag 21 Julie op sy tuisveld vir byna 70 minute in ’n wurggreep gehad, maar in die einde die onderspit met 25-29 geblaas nadat hy rustyd met 15-12 voor was.
Dié wedstryd, wat die eerste van die tweede ronde in die Boland-Grootuitdaagreeks van die Weskus was, kon enige kant toe swaai, maar die besoekers het bewys hulle is die hongerste van die twee spanne. Mamre, wat in die eerste ronde al sy wedstryde weg gespeel het weens die waterkrisis, het by tye gespeel soos ’n span wat wil wen, maar hanteerfoute het goeie bewegings laat skipbreuk ly.
Mamre het ten spyte van goeie dissipline die besoekers toegelaat om punte aan te teken en uiteindelik sy eie ondergang bewerkstellig.
Die tuisspan se jong losskakel, Bradley de Jong, het gewys hy het ’n groot hart en sy span op die aanval geplaas. De Jong was saam met Edwil Okkers die beste agterlynspelers van die wedstryd.
Mamre se voorspelers, wat in die eerste paar minute gesukkel het met hul skrumwerk, het gou weer hul voete gevind.
Die besoekers het eerste agter die tuisspan se doellyn gaan kuier toe losskakel Fabio Afrika die tuisspan se verdediging aan flarde geskeur het. Mamre het egter teruggeslaan met ’n verdoelde drie en sake was gelyk. Velddrif het onmiddellik reageer met ’n onverdoelde drie om sy neus voor te kry, maar die tuisspan het ook weer gaan druk.
Mamre het kort voor rustyd die voortou geneem met ’n strafskop. Die tweede helfte het vir baie opwinding van die spanne gesorg en Mamre was sterk op die aanval en het op sewe punte vir die besoekers uitgeloop toe Afrika die bal 10 m van sy doellyn onderskep en Curlin Diergaard wegstuur het vir ’n drie van byna 90 m.
Mamre het egter teruggeveg en met Okkers aan die spits het hy sy span met 25-19 laat voorloop met ’n verdoelde drie.
Mamre kon daarna nie die uitklophou plant nie. Die besoekers het nog ’n drie gedruk en met slegs een punt wat die spanne skei het die spanne mekaar behoorlik opgekeil.
Velddrif het egter laat in die tweede helfte die tuisspan se koppe laat hang toe die stut Ferdinand Mitchel die wendrie gedruk het.
Young Hearts van Pella het verrassend teen Hopefield met 32-24 vasgeval het.
. Mamre het Saterdag op sy tuisveld geleer uit sy foute van sy vorige wedstryde. Die span het karakter en veggees getoon teen Langebaan en met 37-36 gewen het.
Die oorwinning, wat Mamre se eerste was, het bewys die span beskik oor die nodige veggees en mag dalk net die regte medisyne vir die groentruie wees vir die res van die seisoen.
Mamre pak volgende vir Vredenburg in ’n tuiswedstryd aan en sal beslis sy momentum wil behou.
Langebaan wat rustyd met 26-23 voor was, het verskeie kanse verbrou om die wedstryd te seël.
Young Hearts van Pella het op sy tuisveld verseker hy bou weer wenmomentum op toe die span Paternoster met 29-19 geklop het nadat hy rustyd reeds met 22-7 voor was. Pella het die oorwinning broodnodig gehad om sy tweede plek op die punteleer te behou. Die span reis die komende naweek na Velddrif op soek na nog ’n bonuspuntoorwinning.
¦ Hamlets het Saterdag op sy tuisveld met 30-42 teen Prim Roses vasgeval. Hamlets, wat in sy vorige wedstryd ook die louere met 27 elk met Collegians gedeel het, sal vinnig sy voete moet vind in die B-afdeling van WP-Superliga as hy onder die voorlopers wil eindig.
Hamlets pak Paarl in ’n wegwedstryd 4 Augustus.