Mamre wen eerste trofee

Mamre is die eerste OK-7’s-rugby-gemeenskapskampioen nadat die groen truie St. George’s van die Strand 19-17 in die eindstryd geklop het nadat die kampioen rustyd 5-12 agter was.


Mamre is die eerste OK-7’s-rugby-gemeenskapskampioen nadat die groen truie St. George’s van die Strand 19-17 in die eindstryd geklop het nadat die kampioen rustyd 5-12 agter was.

Die toernooi, met ’n algehele prysgeld van R54 000, is geborg deur OK Mamre. Die kampioen het met R30 000 weggestap.

Die vier plaaslike spanne het goed begin met Young Hearts, Hamlets en Mamre, wat onoorwonne in hul groepwedstryde was.

Atlantis was egter ongelukkig ná hul eerste wedstryd se gelykopuitslag en die span moes sy laaste wedstryd wen om ook na die bekerstryd deur te dring. Hoewel hy 17-24 teen Saffcol vasgeval het, het Atlantis weens ’n beter punteverskil deurgedring.

Met die vier spanne in die wedloop vir die gesogte prysgeld het Hamlets in die laaste 16 die een hand op die trofee gesit toe hy Hopefield maklik 25-0 geklop het.

Young Hearts het ook sy hand uitgesteek met ’n goeie 29-7-oorwinning oor Belhar, terwyl Atlantis 5-33 teen St. George’s vasgeval het.

Mamre het Saron in die laaste top-16-wedstryd 17-7 geklop en ook sy hand op die trofee geplaas.

Hamlets het sy greep in die kwarteindstryd verstewig deur een van die toernooi-gunstelinge, Tygerberg, 17-14 kous oor kop huis toe te stuur vir ’n plek in die halfeindronde.

Young Hearts het egter 10-12 in ’n riller teen St. George’s vasgeval terwyl Mamre sy greep met ’n 27-5-oorwinning oor Saffcol verstewig het.

Met ’n plaaslike eindronde wat vir die twee oorblywende spanne gewink het, het Mamre sy greep verstewig en sy plek in die eindronde bespreek met ’n 19-14-oorwinning oor Strand United.

St. George’s het egter ander planne gehad en ’n droom- plaaslike eindronde bederf deur Hamlets se hand van die trofee met ’n 12-7- oorwinning af te ruk.

Met ongeveer 6 000 toeskouers wat die dag se vermaak geniet het, het Mamre daarna gewys geen span kom maak op sy tuisveld wat hy wil nie en het sy plaaslike toeskouers met goeie aanvallende 7’s-rugby vermaak.

Die groen truie het hom ná ’n senuweeagtige eerste helfte reggeruk met twee verdoelde drieë, wat genoeg was om as kampioen gekroon te word.

Volgens Usen Jacobs, die eienaar van OK Mamre, is hy trots op die span wat die dag ’n sukses maak het. Hy sê daar word reeds aan volgende jaar se kompetisie gewerk om dit nog groter te maak. Die hoop is om dit ’n jaarlikse instelling op die rugbykalender te maak.

You need to be Logged In to leave a comment.