Die Groentruie van Mamre-rugbyklub het Saterdag hul wendroogte gebreek toe hulle St. Helenabaai op hul tuisveld met 38-34 geklop het.
Dit was in ’n Boland SwartWeskus-tweederonde liga-wedstryd. Die jong en onervare span van Mamre het hard vir die oorwinning gewerk. Van meet af kon ’n mens sien dat hulle hul ondersteuners wil tevrede stel en het met hart en siel gespeel. Hulle het hul eerste ronde nederlae teen die besoekers gewreek.
Mamre se puntemakers was: drieë: Duwayne Cupido, Gershwin Cupido (ook ’n skepdoel), Bradwin Prins, Charl Daniels en Edwill Okkers het 15 punte oorgeskop. Die tweedespan het met 22-7 verloor en die derdes het ook met 24-7 vasgeval.
SMamre speel Saterdag tuis teen Velddrif.
- Young Hearts van Pella het sy vierde posisie in die Boland SwartWeskus-streekligawedstryde behou toe hy die voorbok, Langebaan, op sy tuisveld met 17-6 geklop het.
Die wedstryd was op 3 Junie in winderige toestande beslis. Dit was ook die laaste wedstryd in die eerste ronde. Die sterk span van Langebaan het Young Hearts onderskat en lelik hul moses teëgekom. Langebaan het in die eerste helfte saam die wind gespeel en het reeds in die vyfde minuut voorgeloop toe hulle met ’n strafskop geslaag het.
Pella het kort daarna hul ondersteuners op hul voete gehad toe die 19-jarige blitsvleuel, Barry Adonis, agter die pale gaan kuier het. Kirwin Snell het met die doelskop geslaag. Albei spanne het baie foute weens die gure weersomstandighede gemaak, soos balle misvat. Die span van Pella het ook meesterlik verdedig en die voorbok ontneem van kanse. Die besluit van Young Hearts om ook nie te skop nie en Langebaan moeg te hardloop het ook vrugte afgewerp toe Adonis nog ’n drie teen die sterk wind behaal het. Snell het misluk met die doelskop. Die span van Langebaan het voor rustyd nog ’n strafdoel behaal en die manne het gaan water drink op 12-6 in die tuisspan se guns.
Ná rustyd was die manne van Langebaan ’n ander span. Hulle het van meet af aangeval, maar kon nie deur die skitterende verdediging van Reuben Abels se span kom nie. Al sy spelers het meesterlik verdedig en die talle aanslae van Langebaan afgeweer. Met so aanslag het hulle die bal gewen, Snell het die bal diep geskop om Pella op die aanval te sit. Pella het vir tien minute talle skrums en lynstane gewen en niemand was verbaas toe veteraan-reserwe voorspeler, Gurston Appollis, oor geduik het vir ’n drie in die hoekie nie. Dit was ook vir albei spanne die enigste punte in die tweede helfte aangesien Snell net-net die moeilike doelskop links verby geskop het. .Pella het Coronations Saterdag 10 Junie op Kalbaskraal met 20-11 geklop. Abels se span was met vyf minute se spel oor 10-11 agter en het in die doodsnikke twee drieë gedruk om te wen.
SSaterdag 17 Junie geniet hulle ’n loslootjie en op 24 Junie pak hulle Piketburg tuis.
- Hamlets het Saterdag in die Strand sy eerste nederlaag van die seisoen ervaar toe Helderberg hulle met 36-17 verslaan het. Dit was in ’n Westelike Provinsie Superliga B- wedstryd.
SDie gekweste Hamlets pak Franschhoek Saterdag op sy tuisveld aan en sal hard werk vir ’n oorwinning om sy liga-inspirasies weer op dreef te bring.
- In die Westelike Provinsie se Suidelike Liga het Atlantis-rugbyklub sy eerste wegwedstryd gewen toe hy Rockland op Rocklands met 15-10 geklop het. Die tweedes het gelykop 12-12 gespeel en die derdespan het 18-8 gewen. Dit is die nuwe afrigter, Fabian Brandt, se tweede agtereenvolgende oorwinning. Daar is ’n absolute nuwe gees by die klub wat mens kan aanvoel. SHulle is af vir die res van Ramadaan, maar sal weer 8 Julie teen Young Brothers op Gugulethu speel.