Pella het die besoekers van Mamre met goeie verdediging op die agtervoet gehou.Foto: Murphy Roberts


Mamre-rugbyklub het Saterdag 6 April gewys hy maak nie net getalle vol in Boland se Grootuitdaagreeks nie en het Young Hearts van Pella tot die einde laat sweet vir dié se uiteindelike oorwinning in sy eerste ligawedstryd van die seisoen.

Mamre, wat rustyd 11-8 voor was, het die wedstryd 11-20 afgesluit. Die groentruie se agterlyn, met Edwill Okkers aan die spits, het gou die tuisspan onder druk gehad en Okkers, wat die wedstryd op losskakel begin het, het bewys die nr.10-trui behoort aan hom. Okkers het gereeld die tuisspan se verdediging aan flarde geskeur met sy vlymskerp bewegings, maar ’n gebrek aan afronding het die span duur te staan gekom.

Mamre moes die wedstryd ná 25 minute met 14 man voltooi nadat Waldick Gericke met ’n rooikaart gestraf is, maar die span het nooit die handdoek ingegooi nie.

Young Hearts het verlede seisoen die tonge losgespeel en pronk hierdie seisoen met heelwat nuwe gesigte. Sy verdediging en afronding sal gewis afgerond en geskaaf moet word as hy weer ’n droomseisoen wil hê.

Gemoedere het in die wedstryd soms hoog geloop. Al twee spanne moes kophou en het kanse verbrou.

Mamre was sonder twyfel die hongerste van die twee spanne en met beter afronding en minder hanteerfoute kon die span die verrassing van die seisoen oplewer.

Young Hearts het die besoekers se aanslag egter afgeweer en die opwindende agterlyn het van tyd tot tyd tekens getoon dat sy ondersteuners hierdie seisoen sal kraai van plesier weens sy aanvallende spel.

Mamre het Saterdag die verdedigende Weskus-streekkampioen Saldanha onthaal en weer goeie rekenskap van homself gegee.

Die besoekers uit die Baai het wel die wedstryd 66-33 gewen, maar die tuisspan se karakter en veggees het uitgestaan – dit sit nie in enige span se sokkies om so baie punte teen Saldanha aan te teken nie.

Young Hearts het die span van Langebaan in ’n wegwedstryd gepak. Young Hearts is tans net ’n skadu van verlede seisoen en het die wedstryd 22-33 verloor nadat die tuisspan rustyd 12-8 voor was.

Young Hearts sal nie baie kerrievis en Paaseiers kan eet nie want ná die Paasnaweek lê ’n omgekrapte Paternoster by die grafkelder besoek af.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • WeskusNuus E-Edition – 25 June 2025
    WeskusNuus-E-Edition-25-June-2025