Mans van Atlantis, Mamre en Pella het Saterdag 3 Junie die strate ingevaar om hul misnoeë teen die mishandeling van vroue en kinders uit te spreek.
Slagspreuke soos: “Ons is gatvol”, “Hands of our children”, “No means no” en “Strong men together against women and child abuse” was oral op plakkate te lees.
“Die onlangse vlaag van gewelddadige misdrywe teen vroue en kinders in Atlantis het ons aangespoor om standpunt in te neem en te wys dat sterk mans nie vroue en kinders hoef af te knou nie,” het Beauron Ranck, organiseerder van dié optog gesê.
Motorklubs MK 1 Volkswagen, Mamre Petrol Heads en die jeuggroep Xtreme Youth het almal kragte saamgesnoer en was dit eens dat sulke oortredings nie langer geduld sal word nie en dat oortreders die mag van die wet en gemeenskap moet aanvaar.
Ranck meen mans kan nie net terugstaan en kyk hoe die kosbaarste mense in hul lewe vernietig of weggeneem word nie. Hy glo ook dat die oorgrote meerderheid mans beskermers van vroue en kinders is.
Allister Lightburn, projekkoördineerder van Gender Transformation Network (GTN) in Atlantis, het die mans ingelig dat die mansgedrewe-vredesoptogte ook die eerste deel van hierdie inisiatief is. “Ons beplan ook ouerskap- en mentorskapsintervensies sodat mans hul regmatige plek binne die samelewing kan inneem,” het Lightburn gesê.
Die organiseerders beplan nog sulke optogte in die komende weke. Hulle beplan ook om skole te nader om so bewusmaking aan te wakker.
Die volgende optogte vind 17 Junie in Atlantis en 24 Junie in Mamre plaas.