Vermeende dwelmverslaafdes is woedend nadat ’n man wat beloof het om hulle te help, nou skoonveld is.
Die vier mans het na bewering ’n man by die plaaslike hospitaal genader om hulp vir hul dwelmverslawing. Nadat die mans glo hul geld aan die “goedgeklede” man betaal het, het hulle nie weer ’n woord van hom gehoor nie.
Een van die mans, ’n 28-jarige selferkende tikkop, sê hy het ’n besluit geneem om iets aan sy verslawing te doen aangesien hy ’n werk en kinders het.
“Ek het verlede week besluit om by die hospitaal vir hulp te gaan aanklop,” het die man wat nie sy naam genoem wil hê nie, aan Weskus Nuus gesê.
Hy vertel verder terwyl hy in die hospitaal se ontvangs gesit het, het ’n goedgeklede man hom genader. “Ek het besluit om vir hom vir hulp te vra, want ek het gedink hy is dalk ’n dokter. Hy het my meegedeel hy is die regte persoon om mee te praat. Ons is vir ons suiker getoets en moes ook ’n urinemonster aan die vent verskaf. Verder het hy vir ons gesê ons moet elkeen R450 vir hom gee dan sal ons 18 Augustus met ons rehabilitasieprogram in die Paarl begin,” sê hy.
Een van die ma’s van die verslaafdes is baie ontstoke en sê die “arme kind” wag steeds om na die rehabilitasiesentrum te gaan. “Sy klere is klaar gepak om ‘gesond’ te gaan word. Hoe kan jy so iets doen aan jongmense wat hul lewe wil verander,” wou die ma weet. Hulle reken die man wat die vier ingeloop het, is dalk self ’n tikkop, want “wie dink sulke goed uit”. Volgens die verslaafdes is hul moed nie gebreek nie en wil hulle steeds hulp hê. Weskus Nuus het die hospitaal genader oor inligting rakende die man, maar niemand van die hospitaal het geweet wie die man is nie. Werkers het gesê hulle het van die voorval te hore gekom en sê dit is glo nie die eerste voorval nie. Weskus Nuus het die departement van gesondheid genader om kommentaar, maar teen druktyd was daar nog geen terugvoering nie.