Saxonsea Sekondêre skool se matriekklas van verlede jaar het akademies die beste uit die vier hoërskole in Atlantis gevaar. Dit is ’n titel wat die klas van 2018 graag wil behou.
Weskus Nuus het die skool Woensdag 7 November besoek om te hoor hoe leerders die eindeksamens ervaar.
Die matriekklas is optimisties en glo hulle gaan weer koning kraai.
Kercher Don, een van die topmatriekpresteerders hierdie jaar sê Engels vraestel 2 was “baie billik. Dit wat ek kon gedoen het, gaan aan my ’n goeie eindpunt gee.”
Hy is oortuig die skool gaan weer vanjaar die titel opraap, want “ons onderwysers is toegewyd en gee altyd hul beste,” verduidelik hy. “Almal is baie toegewyd en ek self sit alles in om te verseker dat ek nie myself teleurstel nie.”
Volgens Justin Fischer was een van sy vraestelle “bietjie uitdagend.” Hy voel die vraestel was effe moeiliker as die vorige een.
“Tot dusver voel sukses haalbaar. Al die matrieks werk hard en die studiegroepe help ons baie,” sê Fischer.
Jo-Dine Julies se gunstelingvraestel tot dusver was ook die Engels vraestel 2.
Volgens Sean Lintnaar het elke vraestel sy eie uitdagings. “Dit was redelik uitdagend, maar ek was goed voorberei,” sê hy.
Antonio Clarke voel positief oor die eksamen. Hy reken “goeie voorbereiding dra daartoe by dat ’n mens die vrugte pluk.” Maar pasop, die matriekklas van Atlantis Sekondêr sê hulle is gereed om vanjaar die titel van beste akademiese matriekklas in Atlantis voor Saxsonsea se neuse weg te raap.
Dié klas het Dinsdag 6 November aan Weskus Nuus vertel dat hulle ook hul Engels vraestel 2 getroef het.