Atlantis-skole het heelwat swakker in verlede jaar se matriekuitslae gevaar.
Saxonsea Sekondêr was weer die toppresterende skool in dié gebied. Ten spyte van ’n daling van 1% spog die skool steeds met ’n slaagsyfer van 96,3%. Net vyf van verlede jaar se matrikulante kon nie die mas opkom nie.
Robinvale Sekondêr het sy tweede plek behou met ’n slaagsyfer van 84,3%. Die grootste skok onder plaaslike skole is Hoër Tegniese Skool Proteus, wat verlede jaar Atlantis Sekondêr uit die derde plek onttroon het en nou ’n skerp daling in sy slaagsyfer getoon het.
Dié skool se slaagsyfer is met 13% af wat Atlantis Sekondêr weer in die derde plek laat met 76,3%. Atlantis Sekondêr het in 2017 die dorp se slimste leerder opgelewer, maar dié jaar het Proteus dié eer gehad.
Proteus het egter in 2018 met die louere weggestap toe sy topleerder stof in die oë van die res van die dorp se leerders geskop het.
Chad Smith het met sy 82,8% gemiddelde net-net vir Siphoxolo Carbithin (82,57%) van Atlantis Sekondêr geklop as die dorp se slimste. Jolene Talmakkies van Saxonsea is derde met 76,4% terwyl Robinvale se Eden Wilson 72,7% vierde in dorp geëindig het.
’n Woordvoerder van Proteus sê die skool is trots op sy leerder se prestasies aangesien tegniese skole in Suid-Afrika in geheel swakker gevaar het.
Hy sê voorts tegniese wiskunde, wat verlede jaar vir die eerste keer aangebied is, het ’n groot impak op die skool se uitslae gehad aangesien slegs 30% van die skool se leerders dit kon baasraak.