Atlantis se matrikulante het weereens bewys moeilike omstandighede gaan hulle nie kniehalter nie.
Saxon Sea is die topskool in Atlantis vir 2016 met ’n slaagsyfer van 97,8%.
Robinvale volg met ’n slaagsyfer van 90,4%, Atlantis Sekondêr 81,9%, en Proteus 72%.
Deon Claassen, hoof van Saxonsea, sê hy is uiters trots op die klas van 2016, wat 15,7% beter gevaar het as die klas van 2015.
Twee van die skool se topdrie leerders is ouers; Christalene Mouton (20), die topleerder by die skool het vier onderskeidings en ’n slaaggemiddelde van 76,7% behaal.
Sy het op 15- jarige ouderdom reeds ma geword. Sy het aanvanklik die skool verlaat, maar het besluit om weer terug te probeer omdat sy weet ’n goeie opvoeding haar kind van ’n beter toekoms sal verseker.
“Ek het myself net toegespits op my kind en my studies,” sê die slimkop. Mouton begin vanjaar aan die Universiteit van die Wes-Kaap (UWK) aan haar onderwysgraad studeer.
Hayley de Kock (18), wat die tweede beste gevaar het by die skool, het twee weke voor die eksamen gekraam. Sy gaan ook vanjaar onderwys swot. Robinvale, wat verlede jaar die hoogste slaagsyfer gehad het, se topleerder Amber-Mae Ebden (18), is ook die dorp se top presteerder met ’n slaaggemiddelde van 79,4% met vier onderskeidings en is op die departement se merietelys vir besigheidstudies. Sy gaan regte studeer by UWK. Volgens Vaugh Murray, skoolhoof van Robinvale, het sy topleerder baie hard gewerk deur die jaar en het sy agt vakke gedoen.
Jeohanan Swartz, van Atlantis Sekondêr, het algeheel die tweede beste gevaar in die dorp met ’n gemiddelde van 79,4% – hy het sewe vakke gedoen.
Aimee-Kay Prins (18), is Proteus se topleerder met ’n slaaggemiddelde van 68,1%. Sy woon in die bende-geteisterde Dura-woonstelle. Die slimkop het haar egter nie van stryk laat bring deur die voortslepende bendegeweld nie en het net haar droom na gestreef, om eendag onderwyser te word.
Besigheidsman, Stephan Julius, en chemiese ingenieur, Tyrone Cloete, wat ook in die Dura-woonstelle opgegroei het, het besluit om terug te ploeg in die gemeenskap deur finansiële bydraes tot die topleerders se studies te maak.
Cloete het R15 000 bygedra tot Prins se studies en Julius het ’n Samsung-tablet aan Ebden geskenk en finansiele bydraes aan die top 10-leerders gemaak.