Die Woorde Open Wêrelde (WoW)-mediawerksessie is in volle swang en leerders is opgewonde om hul skoolkoerante te publiseer.
Die inisiatief deur die Universiteit Stellenbosch (US) word deur Weskus Nuus gedryf en word in samewerking met WeCan24, Media24 se digitale netwerk vir ywerige jong joernaliste, gehou.
Die eerste werksessie is Vrydag 5 Mei by Atlantis Sekondêre Skool gehou.
Sowat 70 leerders van vyf deelnemende skole; Hoër Tegniese Skool Proteus, Saxonsea Hoërskool, Atlantis Sêkonder, Weston Hoërskool van Vredenburg en Schoonspruit Sekondêr in Malmesbury neem aan die projek deel.
Die skole het almal reeds of is in die proses om skoolkoerante te begin.
Die doel van die mediawerksessies is om die leerders touwys te maak oor die mediabedryf en om hulp te verleen sodat hulle self skoolkoerante kan publiseer en versprei.
WeCan24 bied aan jong joernaliste die geleentheid om hul werk aanlyn te publiseer, terwyl Weskus Nuus van die leerders se stories in hul koerant gaan publiseer.
“Die projek gun leerders die geleentheid om ’n portefeulje op te bou terwyl hulle nog op skool is.
“Dit kan net jou kanse versterk vir studiegeleenthede na skool,” sê Joline van der Merwe, redakteur van Weskus Nuus, wat ook die werksessies aanbied.
Nog twee werksessies word vir Augustus en Oktober beplan.
Van der Merwe sal ook met die individuele skole werk, indien en waar nodig.
Deelnemende skole moet gedurende November ’n eksemplaar van hul koerant inskryf vir beoordeling.
Deelnemers sal beoordeel word volgens die basiese elemente van die koerant, samestelling of inhoud, hul storiekeuses en die algemene voorkoms van die koerant.
Wenners sal tydens ’n gala-aand aangekondig word.
Leerders sal ook ’n kans staan om beurse te wen, wat hulle in staat sal stel om by die US te studeer.