Saxonsea Primêr se nuwe leerders het vir heelwat drama op die eerste skooldag gesorg.
Jaydine Mcewan, ’n gr. 3-leerder, het seker vir die meeste opwinding gesorg toe sy glad nie haar ma se rokspante wou los nie en geweier het om in die klas te gaan. Selfs vier volwassenes kon haar nie opgetel kry nadat sy haar lyfie op die grond neergegooi het nie.
Daar was heelwat blydskap onder nuwe leerders wat uitsien na hul skoolloopbaan en hulle het vriendelik aan Weskus Nuus gewys dat hulle baie bly is om in die skool te wees.
Die eerste skooldag het by baie skole sonder enige voorvalle begin, behalwe hier en daar waar ’n administratiewe fout ingetree het. Volgens die skole bly die grootste uitdaging laatinskrywings. Skole probeer hard om dié leerders te huisves.
“Die probleem kan nie opgelos word as baie ouers steeds aan die begin van die jaar leerders inskryf nie. Beplanning word reeds die vorige jaar gedoen, maar dit word omvergewerp as ouers leerders so laat inskryf. Skole moet ook probeer om ouers te help deur nie leerders van skool tot skool te stuur nie. Oorplasings van binne die dorp moet sover moontlik beperk word,” sê een van die onderwysers.