’n Nuwe motor en uiteet is glo twee van Suid-Afrikaners se gunsteling- (en grootste) uitgawes sodra hulle ’n salaris begin verdien.

Volgens die geldghoeroes is meer gereeld uitgaan en spoggerige rygoed uitgawes wat ’n begroting vinnig kan ruk. Talle van ons begin in luukshede indulge sodra ons meer geld begin verdien.

Skuldiges sal gou agterkom dit maak nie werklik saak hoeveel meer rande ons verdien nie, want die begroting klop steeds nie. Hierdie verskynsel word leefstylinflasie genoem.

Die ghoeroes meen dit maak nie saak hoe gemaklik jy is nie; jou geld sal nie hou as jy nie reg daarmee werk nie.

Reël nommer een is dus om te weet waarheen jou geld gaan. Daar is deesdae toepassings wat jou help om te sien waaraan jy jou geld bestee het. Moneysmart, 22seven, MyMoney en Nedbank se My Financial Life is glo vier van Suid-Afrika se beste toepassings.

Tweedens, indien jy ’n groter inkomste het, moet jy liewer meer spaar as uitgee, beveel die ghoeroes aan. Dalk het jy nou “meer” geld omdat jy jou motor of verband afbetaal het. Spaar liewer die geld as wat dit nou deel van jou begroting word. Die redenasie is dat jy so gewoond is om sonder daardie geld klaar te kom, dat dit nie te moeilik behoort te wees om nou te spaar nie.

Ek het ’n vriend wat ná ’n groot bevordering kruideniersware by Woolworths in plaas van Shoprite begin koop het. Sulke spronge beteken dalk jy eet lekkerder, maar jou inkopielys is gewis duurder.

Nommer drie: Moenie té gemaklik raak nie. Daar is nooit 100%-waarborg van enige salaris nie – ondernemings vou, afleggings gebeur en kontrakte kan skielik tot ’n einde kom.

Diversifisering van jou inkomste is belangrik. Indien jy dus ’n tweede inkomste het, hou dit aan die gang.

Skaal af as jy moet, maar moenie heeltemal ontslae raak van dié geld nie. Dit kan jou heel moontlik in ’n noodgeval red of net betaal vir nóg ’n lekker luuksheid.

You need to be Logged In to leave a comment.