’n Leerder (18) van ’n plaaslike Hoërskool is stom ná vier jong mans haar glo herhaaldelik soggens getreiter, aangerand, beroof en ook seksueel aangerand het.
Volgens die leerder se ma, het sy gehoor haar kind was vir twee weke nie in die skool nie, maar sy sê die skool het haar nooit in kennis gestel nie.
Die bom het gebars toe sy haar kind na die skoolhoof geneem het. Sy vertel hartseer hoe haar kind aan die hoof verduidelik het dat vier jeugdiges haar elke oggend voor skool inwag en dan moet sy “protection money” betaal. As sy nie geld het nie “is die hel los,” het die ma gesê.
Die meisie het selfs al geld by die huis gesteel om te verhoed dat die mans haar seermaak.
“Sy word gereeld aangerand en die gespuis druk hul vuil hande in haar broekie as sy nie geld het nie,” vertel haar ma.
Die erg omgekrapte vrou vertel ook die hoof glo nie haar kind nie en het besluit die kind dros.
Volgens die ma moes sy een middag net ná skool aanskou hoe die aanvallers haar kind van haar selfoon beroof en ’n mes teen haar nek hou. “Ek het die skool gebel dat hulle hulp moet stuur, maar die hoof het net sy skouers opgetrek en die foon neergesit,” sê sy.
“Dit het my kind gebreek en haar stem het heeltemal weggegaan. Sy sukkel steeds om te praat en die skool het haar nou geskors omdat sy volgens hulle ’n droster is.”
Volgens Barbra Rass, kampvegter vir vroue- en kinderregte is dit skokkend wat met die meisie gebeur het.
Rass sê sy het R20 0000 begroot vir die Feel Safe Schools-program waar daar na leerders in nood uitgereik kan word.
“Ouers moet ook meer toeganklik by die skool wees, want vrees hou die kinders van die skoolbanke weg,” meen Rass.
Die Wes-Kaapse minister van maatskaplike ontwikkeling, Albert Fritz sê sy departement sal die polisie bystaan om seker te maak dat die oortreders aan die pen gery word. Hy wil sien dat daar dringend na ’n rehabilitasieprogram gekyk word vir dié soort wetsoortreders wat die meisie geteister het.
Fritz het hom sterk teen hierdie voorval uitgespreek en sal hulp verleen deur gespesialiseerde dienste. Hy het plaaslike maatskaplike werkers opdrag gegee om die gesin onmiddellik by te staan. Fritz sê voorts dat die meisie traumabehandeling moet kry en die kwessie met haar spraak moet dringend aandag geniet.
Volgens Millicent Merton, woordvoerder van die Wes-Kaapse departement van onderwys was die skool onsuksesvol in hul pogings om met die ma kontak te maak om die kind se afwesigheid te bespreek. Sy sê voorts die skool het verskeie oproepe gemaak sowel as briewe gestuur, maar sonder enige sukses.