Volgens die nuwe Mej. Weskus Nuus studeer die huidige Mej. SA medies so hoe kan skoonhede nie verstand hê nie? Sy meen die stelling dat skoonheidskoninginne nie breins het nie, moet hersien word.
Die 20-jarige Carishna Pekeur van Uitbreiding 12, is Mej. Weskus Nuus 2018.
Pekeur is Vrydag 30 November by die eerste Mej. Weskus Nuus-skoonheidskompetisie in vier jaar gekroon.
Dié voorskoolse onderwysstudent aan West Coast College werk ook deeltyds by ’n gimnasium, is assistentafrigter by ’n modelagentskap en werk as vrywillige omroeper by Radio Atlantis.
“Toe hulle my naam uitroep en sê ek is Mej. Weskus Nuus, het ek gevoel asof daar nou ’n deur vol geleenthede vir my gaan oopgaan.”
Carishna sien ook die gesogte titel as ’n platform wat sy kan gebruik om terug te ploeg in die Atlantis-, Mamre-, Pella-, Witsand- en omliggende gebiede.
“Ek wil baie graag meer tyd afstaan om ons jong meisies en seuns te groom. Jongmense in Atlantis moet die belangrikheid van selfvertroue, waardes en norme aanleer en toepas,” sê Carishna.
“Ons jongmense dink te veel dat dit fine is om uitspattig te wees en die gebruik van dwelms is cool. Ek wil terselfdertyd ook aandag gee aan kinders se leestegnieke omdat te veel kinders sukkel met hul skoolwerk.”
Carishna sê sy sal graag die eerste Atlantis-skoonheid wil wees wat die Mej. SA-titel huis toe bring.
“Ek glo met Jesus aan my sy is alles moontlik en is ek tot baie groter dinge in staat.”