Melkbosstrand-egpaar dieselfde dag en tyd oorlede

’n Egpaar van Melkbosstrand is dieselfde dag, enkele minute uitmekaar op verskillende plekke oorlede.


’n Egpaar van Melkbosstrand is dieselfde dag, enkele minute uitmekaar op verskillende plekke oorlede.

Marlene en Roy Gillings, 61 en 69 onderskeidelik, is albei Woensdag 17 Mei oorlede.

Volgens Sammy Kleinhans, voorsitter van die Melkbos-gemeenskapspoli-siëringsforum (GPF) het Marlene, ’n bekende karwag, op pad werk toe skielik inmekaar gesak. “Sy is enkele minute later, op die toneel, deur mediese werkers dood verklaar.”

Kleinhans en ’n afvaardiging het na die egpaar se woning gegaan om Roy in te lig van sy vrou se sterfte, waar hulle toe op sy lyk in die huis afkom.

Volgens Kleinhans het mediese werkers bevestig hy is ook al ’n tydjie dood, wat beteken beide Marlene en Roy is ongeveer 12:00 oorlede.

Die egpaar het jare in ’n nabygeleë bos gebly en het ’n paar jaar gelede in ’n nuwe ontwikkeling getrek in Melkbosstrand. Kleinhans sê die egpaar het hulle nooit laat onderkry deur hul omstandighede nie.

“Marlene was ’n baie intelligente vrou en was ’n opgeleide rekenmeester, sy was ook die eerste projekleier van ons karwag-projek omdat sy ’n passie gehad het vir haar werk en was baie trots op haar uniform.”

Die egpaar se dood het nie net die gemeenskap geruk nie, maar ook hul getroue hond, Duke. Kleinhans vertel hy wou nie wegkom van Roy se lyk af nie en twee veeartse moes hom verdoof en toe verwyder.

Die GPF en inwoners is bekommerd omdat hulle nie weet waar die egpaar se kinders is nie en Marlene het die oggend van haar dood ’n saak van diefstal by die polisie aangemeld, nadat haar selfoon gesteel is. Kleinhans vrees enige kontakbesonderhede is dalk ook nou verlore. Die egpaar is glo oorspronklik van Nelspruit afkomstig.

Konst. Debi Alard, woordvoerder van die Melkbosstrand-polisie, het die insidente bevestig. Sy sê verder, twee geregtelike doods- dossiere is geopen. Die oorsaak van albei se dood is steeds onbekend en die polisie wag vir die uitslae van ’n nadoodse ondersoek.

You need to be Logged In to leave a comment.