Dié wat so kla oor alles . . . julle kan maar ophou. Dis mos nou weer winter en Kapenaars ken mos en weet mos van ons diepe liefde vir ‘n koppie of ‘n bordjie sop as daar net ‘n effense wolkie in die lug is.
Dis wie ons is, maar daar is mos dié van ons wat daai soplekkerte soos die pes probeer vermy.
Wat die rede daarvoor is, sal net jy weet. Dalk het jy lank, lank gelede te veel sop in die koshuis op die dorp waar jy skoolgegaan het, gekry, of dalk het ‘n ertjiepit iewers in jou verlede in jou keel gaan vassteek.
Ek sal nie nie weet nie, maar nou wil jy vir jou ma kom slim woorde gee soos “Dit bly ook net sop” of “Dis al weer gortsop en vetkoek”.
Halloooo, wat verwag jy? Soek jy skaaptjops, kaviaar en sjampanje vir aandete? Het jy die weerberigte vir die afgelope paar dae dopgehou? Dit voorspel sommer heelwat reën, en as dit in die Weskus reën, dan eet ons sop met lekker vetkoek of roosterbrood daarby.
As daar boonop ‘n soetpatatjie is, dan rond ons sommer daarmee af.
So, daai kind in jou – jy sal maar oor jou sopseerkry uit die verlede moet kom, want met die droewige ekonomie kan jy nie nog fênsie kom wees met die spyskaart by die huis nie. Mamma-goed weet hoe lyk die beursie. Hulle weet hoe om daai groot pot kluitjie-sop sy ding te laat doen.
Vir twee dae ná mekaar sit sy haar kwart-oor-nege- (vrolike en gelukkige) gesig op as daar net sop oppie tafel is. Sit ‘n bakkie sop in vir die etensuur by die werk.
Dit is hoe dit is. Wanneer jy eendag jou eie begroting het, kan jy maak en eet soos jy wil, maar solank jy nog onder Mamma- goed se dak is, sal jy die winter maar moet laag lê en die sop-eet-tradisie met trots laat voortleef.
Moenie jou neus optrek of jou mond
skeeftrek nie, want ‘n kopklap is spoedig op pad en ná die kopklap gaan jy hoor “Loop boek jou by ‘n hotel in en gaan geniet hul viergangmaaltye. Hier eet ons sop en wat daarmee saamgaan.”
Ek hoop jy kry die boodskap en sien die prentjie. Hou op kla oor die sop. As jy regtig nie die sopsaak kan verdra nie, gee dan maar vir Mamma jou ekstra rande om vir jou daai vis-parcel en tjips of daai liplekkerhoender-lekkerte op die tafel te sit.
Wat myself betref . . . ai, ek sal my linkernier skenk vir ‘n lekker koppie sop soos net my Ousus Rochelle kan maak, of my tweede ma, Karin, van Wellington. Hier waar ek nou is, moet jou hart baie sterk wees vir dit wat oppie tafel is. Ek is al meer as een keer uitgenooi om die slangsop te proe. Dierbare grietatjie, net die gedagte daaraan laat my maag ‘n paar keer draai en mik na die naaste gemakshuisie.
O, en die paddas wat so oopbeentjies lê, smaak glo nes hoender en ek sal dit glo baie geniet. Ek moet net oopkop wees en dit proe. Dit gee glo ook ekstra woema onder die lakens.
Nee wag, lê soontoe, paddaboutjies!
In dieselfde asem voel ek dan skuldig, want iewers sal ek mos ander kulture se kosse moet beproef, maar net die gedagte dat ek aan daai padda se boudjies moet kou . . . Genadetjietog, dit klink vir my een te veel. Wat dink jy? Moet ek maar proe?
Ek meen, kos is seker mos maar net kos?
As ons dan mopaniewurms, volstruis, ystervark en hoenderpote in Suid-Afrika eet, dan is ‘n stukkie slang mos darem seker nie so erg nie, of hoe?
Mamma-goed het ook nie dom gekom nie. Hulle weet die wintersonnetjie steek weer oormôre sy kop uit en dan soek almal ‘n lekker pot koolbredie met witrys, soetpampoen en beetslaai daarby. Intussen het sy daai groot pot gortsop met ‘n slim plan voorberei. Die een deel word vir sop-aand gemaak. Die res word in die vrieskas gebêre, want as die stormreën volgende week weer sy verskyning maak, dan gaan daai gevriesde sop sy ding moet doen. En waag dit net om te kla oor gevriesde sop . . . Jy weet wat daarop sal volg.
Moenie worry nie, want by die gevriesde saak gaan Mamma lekker tuisgebakte brood bak – nes almal daarvan hou.
Julle, dis moeilike tye in ons land. Die rande moet gerek en gestrek word. Monde by die huis moet gevoed word. Los jou geite en goete en eet jou sop!


